Update
TUINROETE NUUS - Ná bykans drie jaar is die Plettenbergbaaise rekenaaringenieur wat op 18 644 klagtes van die besit van kinderpornografie skuldig bevind is, op Dinsdag 7 November gevonnis.
William Beale (39) het in die Thembalethu-streekhof verskyn waar hy 15 jaar tronkstraf opgelê is.
Dit is die hoogste vonnis tot dusver in Suid-Afrika vir dié tipe oortreding.
Beale het hom glo nooit self skuldig gemaak aan die fisiese molestering van kinders nie.
Van die beeldmateriaal wat gevind is, sluit die marteling en moord op babas van net 'n paar dae oud, in.
"Hoewel ander opsies oorweeg is, is tronkstraf die enigste geskikte vonnis in die geval," het landdros Eugenia Jacobs gesê.
"Dit sal 'n duidelike boodskap uitstuur dat hierdie misdade onaanvaarbaar is en nie geduld sal word nie.
"Dit sal die skuldige ook in die toekoms afskrik om dit te herhaal en ander daarvan weerhou om dit te pleeg. Hierdie tipe geestesversteuring kan nie genees word nie, dit word slegs bestuur."
Beale is die eerste Suid-Afrikaner wat met behulp van Operation Cloud 9 in hegtenis geneem is.
Operation Cloud 9 is 'n voortgesette polisie-operasie wat die seksuele uitbuiting van kinders op die internet ondersoek.
Die operasie, waar Suid-Afrikaanse en Belgiese-polisie hande gevat het, het die internasionale kinderpornografie-kartel, waarvan Beale deel was, aan die kaak gestel.
Hy is ook R500 vir die besit van dagga beboet.
Die 39-jarige William Beale by die Thembalethu-landdroshof verlede Dinsdag. Foto: Yolandé Stander
Staatsaanklaer, Gerda Marx, het die vonnis verwelkom en die beskuldigde as 'n pedofiel beskryf wat nie behandel kan word nie.
Sy het gesê die beskuldigde het die nodige sagteware verkry om aanlyn-anonimiteit te kry.
Hy het dus geregtigheid ontduik deur sy identiteit 'n geheim te hou.
Marx het gesê Beale het bygedra tot 'n mark waar verkragting, mishandeling en selfs moord op kinders aan die orde van die dag is.
Read a more detailed English article by Yolandé Stander.
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'