Meer verkeer laat busse onwettig draai

Deel van die GO GEORGE vloot. Foto: Verskaf.

GEORGE NUUSFLITS & VIDEO - GO GEORGE busse wat vanuit die Garden Route Mall in die verkeerde baan na regs draai, in die rigting van Wilderness, het 'n inwoner van die area laat kopkrap.
 
'n Selfoonvideo wat op 9 Januarie deur ’n inwoner geneem is toon duidelik hoe die standaard grootte bus 'n onwettige draai maak en in die rigting van Wilderness langs die N2 afry.
 
Volgens Chantel Edwards-Close, mediaskakelbeampte vir George-munisipaliteit, is die operasionele span bewus van hierdie probleem en word dit deurgegee na die regte kanale vir optrede. "Daar sal veranderings aangebring moet word by daardie kruising, wat nie onder die jurisdiksie van die George-munisipaliteit val nie," het Edwards-Klose gesê.
 
"Die paaie en baantoewysings by die Garden Route Mall is deur die betrokke provinsiale departement ontwerp voordat Eden Meander ontwikkel is en maak dus nie voorsiening vir die toename in verkeer sedert die opening van dié nuwe sentrum laat verlede jaar nie."
 
"Die verhoogde verkeer om die sirkel wat motors van albei sentrums hanteer, maak dit baie moeilik vir die busse om sonder erge ontwrigting van die verkeer by die baan heel regs uit te kom voordat die bus die verkeerslig bereik en regs moet draai."
 
Hierdie busse volg 'n direkte roete na Pacaltsdorp vanaf die winkelsentrum via die N2.
 
"Die publiek kan egter verseker wees dat die GO GEORGE-busbestuurders opdrag het om so veilig en versigtig moontlik op hierdie roete en stuk pad te ry," het Edwards-Klose gesê.
 
Kyk na 'n video hier onder.
 
 
Lees meer in Donderdag se George Herald, asook aanlyn.
 
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'


Show comments

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a George Herald