GEORGE NUUS - Die 12-jarige Jaydan Durandt, een van Suid-Afrika se belowendste Alpynse (afdraande) skiërs, het die afgelope naweek by die Suid-Afrikaanse skikampioenskappe uitgeblink deur goud en silwer te buit.
Die SA kampioenskappe het vanjaar op 29 en 30 Julie plaasgevind ná streng kwalifisering die vorige week.
Saterdag het Jaydan in die slalomski vir seuns o.14 met 'n kortkop agter die wenner in die tweede plek geëindig. Sondag het hy skoonskip gemaak in die reuse-slalom en eerste in sy ouderdomsgroep geëindig.
Sy gekombineerde tye in die slalom en reuse-slalom het hom die vinnigste seun by die SA's gemaak - 'n merkwaardige prestasie vir iemand van sy ouderdom en een van sy persoonlike hoogtepunte vir die jaar.
Dié gr. 6-leerder van Laerskool Outeniqua is vanjaar vir die derde keer as een van die South African Snow Sport Ski Academy se leerders gekies om vir drie maande by die Tiffendell-ski-oord gespesialiseerde afrigting te kry.
Slegs 'n klein groepe skiërs word jaarliks van oor die land gekies om deel te wees van die akademie waar hulle van Junie tot Augustus daagliks deur die voormalige Olimpiese skiër Alex Heath, touwys gemaak word. Hy fokus, onder andere, op fiksheid en video-analisering en die skiërs bestee 'n minimum van ses ure per dag op die sneeu om dié uitdagende en tegniese gevaarlike sport in ysige temperature van tot minus 10 grade te beoefen.
Heath het Suid-Afrika drie keer by die Olimpiese Winterspele verteenwoordig.
Jaydan het reeds op vyfjarige ouderdom met ski kennis gemaak en op sewe aan sy eerste kompetisie deelgeneem.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'