Gallery Video
GEORGE NUUS & VIDEO - 'n Sub-Antarktiese pelsrobwelpie wat gisteroggend (Woendag 19 Julie) op die strand by Heroldsbaai uitgespoel het, het empatie by besoekers gewek. Wernich Holtzhausen, 'n regstudent aan Nelson Mandela Universiteit (NMU) in Port Elizabeth, het vergeefs rondgebel vir hulp van omgewingsorganisasies en owerhede om die moeë diertjie by te staan.
'n Inwoner van Heroldsbaai, Anita Schreuder, het gesien hoe die rob vroegoggend met die branders uitspoel, terwyl honde op die strand rondhardloop. Ofskoon die honde nie die rob aangeval het nie, was daar kommer onder omstanders dat die diertjie se veiligheid in die gedrang was.
Holtzhausen en sy pa, Martin Holtzhausen, 'n makelaar van George, het net na 11:00 by die strand aangekom. "Ons het onmiddellik begin bel want ons kon sien die rob is maar nog 'n babatjie en hy was uitgeput," het Wernich Holtzhausen gesê.
'n Seuntjie het vir die rob gaan vis koop, maar die diertjie was so moeg dat hy nie daarin belanggestel het nie. "Die seemeeue het die vis kom haal en die rob was bang vir hulle. Hy het vinnig probeer wegkom. As ek 'n goue medalje gehad het, het ek dit vir hom gegee, want hy is 'n survivor," het hy gesê.
Die Holtzhausens is kort na 14:00 gistermiddag daar weg, en die rob was bitter ver van die water.
John Magwa, die opsigter van die munisipale karavaanpark, het hom verder oor die diertjie ontferm. Magwa het steeds by die rob gewaak om seker te maak nuuskieriges gaan nie te naby nie. "Soos hy daar lê, wys dit die water het hom gewen. Hy is nog 'n baba," het hy gesê.
LAAT NUUS: Teen 16:00 gistermiddag was die jong pelsrob gered en was hy veilig in die sorg van dr. Frans de Graaff by die Hartenbos-dierekliniek. 'n Vrywilliger van Stranded Marine Animal Rescue Team (Smart) het die diertjie op die strand gaan haal en na die kliniek vervoer.
Tersia Marais van Smart het gesê hy is veilig en ongedeerd. "Hy sal so gou as wat daar 'n geleentheid is, na die Twee Oseane Akwarium geneem word vir verdere rehabilitasie. Hy sal daarna vrygelaat word. Dis 'n baie spesiale spesie."
* A young seal was stranded on the beach at Herold’s Bay for hours yesterday morning. Visitors tried in vain to obtain help for the animal. By late afternoon a volunteer from Stranded Marine Animal Rescue Team (Smart) in Mossel Bay came to the rescue of the young Subantarctic fur seal and took it to the Hartenbos Animal Clinic. It will be transported to the Two Oceans Aquarium.
Kyk 'n video hieronder.
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'