'n Hartverskeurende brief geskryf deur Triena van der Merwe waarin sy die dood van haar dogter Madré Johnson, wat swanger was, haar skoonseun Tony en haar kleinseun Michael betreur, is Dinsdagoggend voorgelees tydens AfriForum se lewendige uitsending van die bevindinge deur die forensiese wetenskaplike dr. David Klatzow (gemaak na aanleiding van sy ondersoek in die Junie 2017 Knysna-brande).
Die brief getitel Geregtigheid moet geskied - die waarheid moet uitkom is gedeeltelik voorgelees en word beskou as deel van die dringende noodsaaklikheid om die tragiese verlies van kosbare lewens soos die van die Johnson egpaar te verhoed. Hulle was bekend vir hul liefdevolheid teenoor mekaar en teenoor hulle medemense, hardwerkend, vol drome en dus 'n groot verlies vir die samelewing.
Triena van der Merwe, Madre se ma wat op Despatch, Port Elizabeth woon skryf as volg: -
Op 31 Mei 2017 gaan ons met liefde, baie drukkies, hartseer en ook 'n tikkie blydskap uitmekaar, want oor 'n paar weke kom ons lank kuier wanneer Boetie na wie almal met baie vreugde uitsien, gebore word. Op 6 Junie kry ons 'n scan van baba, hy is baie gesond, weeg al 2,5 kg.
Op 7 Junie, op Michael se derde verjaardag, kry ons die verpletterende nuus dat al vier ons lieflingkinders dood is in die brand. WAAROM GOD!!! WAAROM SO!!! Geen groet, hul alleen, ons kon nie afskeid neem. Ons almal bid tevergeefs vanaf die oggend dat U hul moet bewaar, maar U het nie. Ons as ouers moet mos eerste sterf, nie ons kinders nie!! En dan nog al vier gelyktydig. Die mees paraatste en ingeligte mense, om elke hoek en draai 'n mes, hul altyd gewapen met hul vuurwapens. Gereed vir enige situasie. Maar hul kon niks doen teen daardie verterende vuur nie.
Moenie bekommerd wees
Tony se woorde: "Pa en ma moenie bekommerd wees oor die "smeulende rook" nie. Die brandweer kom more kyk en sal iets daaraan doen." As hul maar toe, of vroeër iets daaraan gedoen het, sou ons kinders nog geleef het. Hardwerkende, hulpvaardige, bekwame mense siviele ingenieurs. Tony se verstommende kennis van alles. Hul intelligente seuntjie (Michael) wat alles by sy ouers geleer het. Alles saam met hul doen. Madré, die vriendelike vrou met liefde en warmte wat uit haar uitstraal. Michael was bevoorreg om hul as ouers te hê, wie hom met liefde en geduld geleer en versorg het. Die beste mamma en pappa wat enige kind voor kon vra. Nooit ongeduldig of kwaad vir hom geword nie. Hom altyd eerste gestel. Al die jare van hul verhouding was hul 'n toonbeeld van ware liefde en samewerking vir enige paartjie, oud of jonk. Hul was sielsgenote. Madré sou enigiets doen met Tony aan haar sy.
Plek van liefde
Hul stukkie hemel op aarde waar hul so gelukkig en lief voor was. Waar jy so naby aan jou God gevoel het. Huis en plek van liefde, liefde vir mekaar en ander, vir die natuur en alles daarin. Vir byna 6 jaar het hul geswoeg en gesweet om hul huis en alles rondom te bou sonder werkers se hulp vir hul veiligheid.
Uitgewis in minute
Hul plek, hul huis, al hul besittings, hul verlede, saam met hul lewens, alles binne 'n paar minute totaal uitgewis, so asof hul nooit bestaan het nie.
Madré, ons laatlam, gebore na my man 'n tweede kans op lewe gegun is. Voorbeeldige kind, hard geleer en toppresteerder gewees. Alles wat sy sou aanpak het sy 'n sukses van gemaak, sportief, voluit gelewe. Met haar vertroue en geloof in God gestel het sy haar naskoolse studies begin. Ons as ouers het nie die fondse gehad nie. Beurse waarvoor sy hard gewerk het, het haar studies betaal. Siviele-ingenieur wie vanaf huis gewerk het, tuisteskepper, sonder huishulp, voltydse mamma vir Michael.
Tony, ons seun wat 18 jaar in ons lewe was. Ons raadgewer, helper, beskermer en redder. Sterk man wie se hande vir niks verkeerd gestaan het. Sou nie twee keer dink om in water te duik om iemand of iets uit water te "red". "Ma, as jul ons nodig het, dis net drie ure se ry dan is ons hier". Op my 62ste verjaardag leer hy my om met 'n kettingsaag te werk, dan saai ek verwoesting tussen daardie bome wat moet af en uit. Madré het altyd gesê: "My ma kan alles doen." Ek is soo jammer my kind, MAAR HIERDIE HARTSEER OOR JULLE KAN ……EK….NIE…..DOEN….NIE!! Dis sooooo seer. Ekstra seer om ons ander kinders en my man so te sien en ek kan niks doen dit beter te maak nie. Jul sou nie wou hê ons moes die verdriet deurgaan nie………sou dit in jul hande wees. Jul wou net altyd he almal moes gelukkig wees.
Mis julle
Ek mis jul verskriklik baie, jul het ons geneem na plekke waar ons nog nooit was of gesien het nie. Dinge laat doen en ervaar. Wou altyd die beste vir ons gee of doen. Nooit iemand afgedruk nie, maar eerder "opgebring". Wie gaan ons met raad en daad bystaan? Die afgelope 10 weke was hel. Mis jul geselsies, ons saam lag, ons saamwees, foto’s en Whatsapp’s. Ouma se kokkedollie, patat, koning en engel met jou uitbundige laggies en stout gesiggie. Ons twee kan nooit weer saam speel, kuns doen, sing, stap, hardloop, alles waaraan mens kan dink saam doen nie. Ek mis jou se goed, jou drukkies, jou boodskappies, "Ouma Trien Trien, kan ons jou bel? Is jy wakker? Ek is lief vir ouma." Ons het so baie saam gedoen en geleer. Jou kennis van die natuur, bome, visse en diere, wat jy met ons deel. Jy was die mees intelligente seuntjie van jou ouderdom. So baie drome vir jou gehad. So skielik en op 'n "wrede" manier is jy van jou grootword ontneem. SO ONNODIGLIK!!!
Net eenkeer jul baba vashou
So trots op jul, kon ure van jul praat. Jul so skielik van ons weggeneem. Nog so baie dinge wat jul wou doen, jul drome oor 'n eie besigheid. Jul nog so jonk. Nie jul of ons het eens die voorreg gehad om jul baba net eenkeer vas te hou nie. Ek het 'n foto gesien van my kinders na die brand. WAAROM GOD?? Daar is so baie vrae in my kop waarmee ek worstel en nie antwoorde kry nie. Madré was hoogswanger, kon nie meer so vinnig beweeg nie. Sou sy Michael gedra het "Alles kom reg my bokkie" met haar glimlag vol liefde vir haar seuntjie? Het Tony haar en Michael op 'n stadium gedra? hy was 'n baie sterk man. Sy dalk gestrompel en gesê "Babes, ek kan nie meer nie". Tony het vir my man gesê: "Pa, ek sal Madré en my kinders met my lewe beskerm". Hy het probeer, hul in sy arms toegevou.
Nou na 10 weke, geen aanvaarding, geen berusting, net die verskriklike seer en trane trane trane. Ons sou nou by hulle wees. Michael bly net by ouma Trien Trien en oupa Gert wanneer pa en ma êrens gaan. Ons moes die baba nou vertroetel het nie huil oor hom nie. Wonder of hy soos Michael sou lyk, net so intelligente seuntjie wees. Vrae vrae vrae, onbeantwoord.
Nou lê ons vier kinders in die laai. Net as in askissies. Niks kan hul terugbring nie. Geregtigheid moet geskied. My vertroue is geknak in mense wie iets aan die "smeulende rook" sou doen en NIKS gedoen het!!! Waarom nie? Was ons kinders en hul bure dan so onbelangrik vir hul?
Ek bevraagteken my vertroue in GOD en my geloof wankel. Waar was God? In Jesaja 43 staan die vuur sal jou nie skroei of brand nie. My kinders was gelowiges. Michael het juis gesê Ouma, God het my gemaak, wie het jou gemaak? Die oggend van 7 Junie het ek vir my man en kinders op WhatsApp gesê. Ons moet almal bid. Ons moet nou bid. Madré hul is veilig. MY GOD SAL DAARVOOR SORG!!
Waarom het hulle gesterf?
Watter God aanbid ek en hulle dan? Waarom is my kinders geskroei en gebrand? Waarom het hul gesterf?
Die helfte van ons kinders is uitgewis op een slag hul was ons toekoms. Ons is oneindig baie lief vir hul vier. Tango, hul hond Michael se maatjie wie soos 'n kind vir hul was, is ook dood in die brand. Alles voel nog so onwerklik, ek weet nie of ons ooit sal normaal funksioneer sonder hul in ons lewens nie. Ouers wie 'n kind aan die dood afgestaan het, sal weet hoe stukkend ons is om vier kinders op een slag te verloor, dis onbeskryflik, daar is nie woorde nie. Niemand kan hul spesiale plekke vol staan nie. Hul was 'n groot aanwins vir menige mense en kon nog baie vermag en beteken het in die lewe. Hul is van alles ontneem in 'n oogwink.
Vertroosting en herinneringe
Dis seer om babas en kinders saam hul ouers te sien. Hulle is nie meer hier nie. Hul moes ook so saam gelukkig wees. Dis moeilik om speelgoed, klere ens te ignoreer in dorp. Al die herinneringe. Sou hul ons kan sien vanwaar hul nou is, is hul seker baie hartseer. Dis nie wat hul vir ons wou gehad het in die lewe nie, net geluk sou dit in hul hande wees. Vir nou klou ons eers vas aan die foto’s en video’s wat ons van hul het, kyk elke dag daarna, en hoop dat ons eendag vertroosting en berusting sal kry daarna sal kyk as mooi herinneringe, met minder verlange en gemis sonder om hartseer te raak.
Daarom voel ek dat geregtigheid moet geskied. Die waarheid moet uitkom. IEMAND moet verantwoording doen vir al die hartseer en verliese van almal. Baie dankie vir AfriForum en al die betrokkenes vir wat jul doen en dat jul opstaan vir geregtigheid in hierdie saak.
*Bure van die Johnsons het tydens die uitsending deur middel van 'n Facebook-boodskap dit betreur dat hulle nie net al hul besittings verloor het nie, maar ook hul dierbare bure.
Anita en Anton du Plessis het in die boodskap as volg geskryf "Ons is vriende en bure van Tony en Madré Johnston. Die gebeure van die 7de Junie is presies soos dr. Klatzow berig. Die smeulende oorsprong is verskeie kere vroeër by brandweer aangemeld, maar hul gebrek aan optrede het gelei tot die gevolge van die 7de. Nie net het ons alles verloor nie, maar ook ons goeie vriende."