Video
GEORGE RUGBY NUUS - Hy is eindelik spyt dat hy nie al lankal so 'n geleentheid aangegryp het nie.
So het Rynard van As, bekende rugbyafrigter van die Suid-Kaap aan die George Herald vertel voordat hy die week na Rusland teruggekeer het.
Van As, wat in die verlede baie suksesvol die SWD Arende afgerig het, is deesdae die afrigter van 'n Russiese rugbyklub, Yenisey STM in Krasnoyarsk in Siberië.
Onder sy afrigting het die SWD Arende verlede seisoen die 1ste divisie van die Curriebekerreeks gewen. Hy was sedert 2009 in verskillende hoedanighede betrokke by die Arende onder meer as spanbestuurder en hoofafrigter. Teen laat verlede jaar was daar onsekerheid en vrae oor die finansiële situasie in Suid-Afrikaanse rugby en veral die kleiner unies soos SWD wat nie addisionele borgskappe gehad het om op terug te val nie.
Van As het gesê hy het passie vir afrigting en wou daarmee voortgaan. Laat in 2018 het hy voelers uitgesteek om by afrigting betrokke te bly. Hy het nie omgee waar dit is nie.
Einde Februarie het hy gehoor daar is 'n moontlikheid om in Rusland te gaan afrig. Aanvanklik was hy bietjie onseker en skrikkerig. 'n Russiese verteenwoordiger het hom gekontak en hy is deur 'n keuringsproses. Hy het sy ook eie huiswerk oor die klub gedoen en vasgestel dat hulle al die afgelope sewe jaar die Russiese kampioenspan is. Verlede jaar het hulle ook in die Europese uitdaagbeker gespeel.
Binne twee weke is alles gefinaliseer en in Maart het hy by die span in Turkye aangesluit waar hulle besig was met 'n oefenkamp.
Daarna het die seisoen in alle erns begin en hulle het onder meer 'n oefenwedstryd in Georgia en wedstryde in Roemenië en Rusland gespeel. Die span het intussen weer gekwalifiseer om in die Europese uitdaagbeker te speel. Die span het tot dusver al sy wedstryde vanjaar gewen. Die seisoen word nou weer voortgesit na 'n kort onderbreking.
Hy kan nie uitgepraat raak oor die professionaliteit waarmee die Russe rugby aanpak nie. Rugby is nog nie so gewild soos byvoorbeeld yshokkie en basketbal nie, maar dit groei. Hy het geen twyfel dat die Russe nog 'n krag in internasionale rugby gaan word nie.
Kyk 'n video hieronder.
Volgens Van As is die rugby-standaard in die stadium min of meer gelyk aan die 1ste divisie van die Curriebeker-reeks. Altesaam agt van die klub se spelers is opgeneem in die Russiese oefengroep waaruit die land se span vir die Wêreldbekertoernooi in Japan gekies gaan word.
Uiteraard is daar uitdagings soos die weer en die taal. Die klub het egter goeie oefengeriewe om byvoorbeeld binnenshuis te oefen. Daar is ook tolke wat van Engels na Russies vertaal sodat die spelers sy afrigting kan verstaan. By die klub is ook Suid-Afrikaanse en Georgia-spelers wat Engels kan verstaan.
Die weer bly 'n uitdaging en hy was al by 'n wedstryd betrokke waar dit -5°C was. Afstande is ook 'n groot uitdaging en vir 'n wedstryd moes hulle 18 uur per trein reis.
Dis 'n groot aanpassing weg van sy familie wat in Suid-Afrika agterbly. En ja, hy mis braaivleis. "Ek mis die vuurtjie, 'n skaaptjop en pap en sous. Dit kry mens nie daar nie."
Nieteenstaande al die uitdagings geniet hy dit. Dit is finansieel die moeite werd en die terugvoering van die Russe is wonderlik. "Hulle is passievol en vriendelik. Hulle het waardering vir jou kennis en ondervinding as afrigter."
In die stadium wil hy dit nog so lank moontlik doen.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'