Omskep jou werkplek in 'n groen kantoor

Baie huiseienaars doen reeds moeite om hul huise ‘groener’ te maak om die omgewing te help beskerm, sê Berry Everitt van Chas Everitt International. "En dis redelik eenvoudig om dié konsep in jou werksplek toe te pas."

Hy maak die volgende voorstelle :

* Bespaar papier. Vir elke ton papier wat herwin word, is die ekologiese besparing 26 000L water, 1400L olie en genoeg elektrisiteit om ‘n huis ses maande lank van krag te voorsien. Besin dus voordat jy iets druk. Gebruik beide kante van die papier en gebruik die agterkant van ou dokumente vir toetsdrukwerk. Berg e-posse en dokumente wat jy later weer gaan nodig kry op ‘n skyf pleks op papier. Verwyder jou naam van die poslys van instansies wat ongevraagde nuusbriewe, tydskrifte of katalogusse stuur.

* Herwin wat jy kan. Papier, glas, plastiek, en selfs inkhouers van drukkers en kopieerders kan net so maklik by die werk as by die huis herwin word. Gebruik dus afsonderlike houers vir afval en moedig kollegas aan om dit te benut. Of nog beter, bemagtig ‘n entrepreneur om die inhoud van die houers gereeld te kom oplaai en aan ‘n herwinnigsonderneming te verkoop.

* Bespaar elektrisiteit. Benut natuurlike lig so dikwels as moontlik en skakel die ligte af as jy die vertrek vir langer as 15 minute verlaat. Trek die muurproppe van elektronika en toestelle uit wanneer jy dit nie gebruik eerder as om dit op ‘n gereedheidsgrondslag te laat. En kies energiebesparende produkte soos langduur eko-vriendelike gloeilampe en energiedoeltreffende rekenaars, drukkers en kopieerders.

* Moenie jou e-rommel in die asblik gooi nie. Elektroniese rommel soos ou selfone, faksmasjiene, skootrekenaars en persoonlike rekenaars, skerms, drukkers en kopieerders bevat dikwels giftige stowwe soos lood, kwik, arseen, kadmium en berillium wat liefs uit stortingterreine gehou moet word. As jou ou toerusting nog werk, kan jy dit skoonvee en aan ‘n liefdadigheidsorganisasie of skool skenk. Of skenk dit aan ‘n liefdadigheidswinkel wat dit kan verkoop om fondse vir ‘n goeie doel in te samel. Indien die toerusting nie herbruikbaar is nie, behoort dit na ‘n gespesialiseerde elektroniese herwinnaar soos die New Earth Waste Solutions (www.ewaste.co.za) geneem te word.

* Leef jou groen droom. Vind maniere om jou persoonlike verbintenis te toon- jy kan byvoorbeeld jou middagete in ‘n herbruikbare houer werk toe neem eerder as om wegneemetes te bestel. Of hou ‘n warm trui in jou laai sodat jy nie op kouer dae die verwarmer hoër hoef te stel en so meer elektrisiteit verbruik nie. Elke bietjie help.


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a George Herald