Buurtwag snel tieners te hulp

Van die wapens wat die Conville-buurtwag afgeneem het.

GEORGE NUUSFLITS - Die Conville-buurtwag het op 9 April 'n 16-jarige meisie en 18-jarige seun op die gronde van die Parkdene Baptistekerk te hulp gesnel waar hulle deur twee mans aangehou en beroof is.
 
Terwyl buurtwaglede die gebied gepatrolleer het, het hulle twee verdagte persone die kerkterrein sien betree. Met hul aankoms het hulle op die twee mans afgekom waar een 'n panga teen die seun se nek gehou het terwyl die ander verdagte by die meisie was.
 
Die verdagtes het oor die kerkmuur gevlug toe hulle die buurtwaglede gewaar.
 
"Die paartjie het ons laat verstaan dat hulle beroof is. Die meisie was duidelik getraumatiseer en by nadere ondersoek het sy laat blyk dat een van die verdagtes haar betas het. Hy het haar ook op die grond vasgedruk en haar oorringe gevat. Ons het die polisie laat kom en hulle het die meisie na haar huis in Maraiskamp geneem en die buurtwag het die seun na sy huis geneem."
 
Die buurtwag het weer 'n klomp wapens afgeneem tydens patrollies die afgelope paar weke.
 
Persone wat by die buurtwag wil aansluit, kan vir Rudy Lewis, die voorsitter, bel by 061 977 6098.
 
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a George Herald