12-dag pelgrimstog vir regte

Hakkiesdraad Hartman (links) en sy broer Neil (ver regs), Clinton Whitehead (tweede van links) en Neil Dikwex (middel) gaan hul inheemse drag dra om 'n treffende stelling op hulle roete Kaapstad toe te maak. Foto: Pauline Lourens

GEORGE NUUS - 'n Groep begeesterde aktiviste gaan 'n 12-dag pelgrimstog van 1 200 km deur die Kaapprovinsie aanpak om bewusmaking vir die regte- en identiteit van Suid-Afrika se inheemse volke te skep.
 
'n Versoekskrif, wat vra dat erkenning en uitvoering gegee word aan die Verenigde Nasie se 46 minimale inheemse regte aan die inheemse volke, gaan by die Kaapstadse parlement oorhandig word.
 
Alhoewel die regte reeds op 1 Januarie 2015 in werking gestel moes wees, het aktiviste soos Neil Edwin Danaub Dikwex nog nie moed verloor dat dit gaan gebeur nie. Wat veral van belang is dat grondeise ook ter sprake is.
In die George-gebied is afstammelinge van die Khoekhoegowab tydens die geforseerde verskuiwings van die 1960's van hul grond ontneem en in Preto, 'n voormalige woongebied in die Witfontein-area gevestig.
 
Hul voorvaders se grafte is nog hier te vinde, maar net die dapperstes sal probeer om dit in die ruigtes aan die voet van die Outeniquapas naby die Italiaanse krygsgevangene se ou ruïnes op te spoor.
 
Die stappery gaan eerskomende Saterdag in die Oos-Kaapse dorpie, Fort Beaufort begin en die groep waaronder Hakkies Hartman die vermaaklikheidskunstenaar en sy broer Neil, gaan skole en gemeenskappe toespreek.
 
Getooi in hul inheemse kleredrag (Boesmanvelletjies) met 'n rugsak op die rug, sal hulle hul beroep op die gasvryheid van hul ondersteuners. Net 'n bietjie aalwynsap sal beskerming bied teen die velle son.
 
Een van die stappers, Clinton Whitehead, 'n plaaslike kunstenaar vertel: "Ons wil nie te veel aandag gee aan dinge soos kos nie. Ons wil slegs konsentreer om 'n effektiewe boodskap oor te dra. Ons maak ons dus gereed om bietjie swaar te kry, dis deel van die tog. Dit help om jou gedagtes te fokus op wat belangrik is."
 
Daar is vir oulaas die week by Clinton se huis in Le Vallia beraadslaag en daar is ook 'n groot afskeidspartytjie in Blanco gehou.
 
Neil Dikwex is 'n skrywer en 'n veteraanstapper aangesien hy reeds sedert 2013 die stap aanpak. Hy skroom nie om in sy boeke, waaronder sy jongste een, In die olifantspore van die SON||AES, breedvoerig uitwei oor die volksmoord wat gepleeg is deur die Duitsers in Namibië toe die Herero's uitgewis is, en die vergrype van slawerny ook hier die Suid-Kaap.
 
Hierdie keer verwag hulle om vergesel te word deur drie kameraspanne en lede van die Coloured Mentality (wat op Facebook debatte voer oor die bruin mense se aanvaarding van sy ongelykheid).
 
Die stappery sal op 'n aflosbasis gedoen word en daar sal 'n veiligheidsvoertuig wees wat hul roete volg.
 
ARTIKEL: PAULINE LOURENS, GEORGE HERALD-JOERNALIS
 
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a George Herald