Inbrekers teister Groot-Brak

Generiese foto.

GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Huisbraak in die Groot-Brakrivier-polisiestasie se bedieningsarea het toegeneem.
 
Polisiestasie se woordvoerder, sers Chantel Marais bevestig dat kusgebiede onder 'n vlaag huisbraak deurloop.
 
Die afgelope week is die volgende strate deur misdadigers geteister: Geldenhuysstraat, Plato Walk, Harrisstraat, Kusweg in Reebok, Klipspringerstraat en Beyersstraat.
 
Volgens sers Marais is die modus operandi wat gebruik word om vensters en skuifdeure oop te forseer asook om vensters te verwyder.
 
"Die polisie doen 'n ernstige beroep op inwoners om huisalarms te aktiveer wanneer hulle gaan slaap. Hou alle deure en vensters toe en gesluit en indien moontlik, sluit die kamerdeur van die kamer waarin jy slaap," sê sers Marais.
 
Inwoners word ook gemaan om waardevolle items soos selfone, beursies, kontant, skoot- en tabletrekenaars, asook juweliersware nie te laat rondlê nie.
 
Die voorsitter van die Midbrak belastingbetalersvereniging en bewarea-bestuur, Anton Dellemijn, sê bykans 100 inwoners het die Midbrak buurtwagvergadering op Maandag, 7 Maart, by De Dekke bygewoon.
 
"Die afgelope naweek het die polisie ekstra patrollievoertuie uitgestuur en daar was goeie sigbaarheid. Die misdadigers werk baie professioneel en ons is in die proses om te verseker dat hulle gevang sal word. Ons vra dat buurtwagte bymekaar inskakel en dat inwoners waaksaam sal wees," sê Dellemijn.
 
Sersant Marais doen 'n beroep op alle inwoners om by buurtwagte aan te sluit en sodoende verdagte persone en voertuie te rapporteer, asook by die Groot-Brakrivier SAPD te rapporteer.
 
"Die publiek is die polisie se oë en ore en saam kan ons ‘n verskil maak."
 
Die Groot-Brakrivier SAPD is tans op die uitkyk vir die volgende voertuie: 'n swart Volkswagen Golf, registrasienommer PMZ178 GP; 'n silwer BMW, resistrasienommer TSN595 GP en 'n 1400 wit Nissan met 'n onbekende registrasienommer. Verdagte mans word gereeld in dié voertuie gesien.
 
Kontak die Groot-Brakrivier SAPD (044 620 2206 of 044 620 3361), kst Crowley - Sektor 1, dorp en kusgebiede (082 820 7810) oCCf ao Terblanche - Sektor 2, plase (061 197 4979).
 
 
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
 
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a George Herald