Reënvalpatrone steeds deurmekaar

LANDBOU NUUS - Geen twee jare is uit 'n klimaatsoogpunt dieselfde nie.

Die 2010/11-somerseisoen is gekenmerk deur uitermate swaar reën en vloede in die Somerreënvalgebied terwyl die huidige seisoen byna die teenoorgestelde is wat reënval betref. Beide seisoene is egter geklassifiseer as La Nina of koeler as normale see-oppervlaktemperature in die sentrale Stille Oseaan, alhoewel 2010/11 darem ietwat sterker ontwikkel was.

Een van die groot sondebokke vanjaar was die kolle van warmer-as-normaal-water in die Indiese Oseaan wat verantwoordelik was vir 'n reeks tropiese siklone baie naby aan die ooskus van sentraal en suidelike Afrika.

Sedert die begin van Januarie 2012 was daar nie minder nie as 12 siklone tussen Afrika en Australië. Dit is egter nie 'n abnormale getal nie maar wat abnormaal was is die feit dat nege hiervan oor Madagaskar was of in die Mosambiekkanaal inbeweeg het. Gewoonlik neig die siklonale aktiwiteite meer na die sentrale Indiese Oseaan nader aan Australië en kom slegs een of twee si-klone naby genoeg aan die Afrika vasteland om ernstige ontwrigting van die normale reënvalpatrone te veroorsaak.

Siklone is baie intense laagdruk-stelsels wat vog na die kern van die sikloon konsentreer met swaar reën in hierdie gebied maar wat die droë uitgereënde of dalende lug neersit as 'n hoogdrukstelsel. 'n Hoogdrukstelsel is ongunstig vir reën met die gevolg dat die grootste gedeelte van suidelike Afrika droë toestande ervaar het in die laaste paar maande.

Die sikloonseisoen eindig darem gewoonlik teen Maart/April wanneer die watertemperature begin afkoel omdat die son verder noordwaarts begin beweeg met die winterseisoen. Ongelukkig beweeg tropiese vog wat die bron is van somerreënval ook weer verder noordwaarts en begin die kanse vir somerreënval dan ook afneem.

Hierdie situasie kan egter voordelig wees vir reënval oor die Wes-Kaap want dit kan veroorsaak dat koue fronte weer vinniger noordwaarts kan begin beweeg soos wat die sisteme as geheel effens noordwaarts skuif.

Wat vir die res van die somerseisoen?

Daar is steeds twee moontlikhede naamlik dat die effek van die siklone vinnig verswak en dat daar nog genoeg van die somerreënval seisoen oor is om goeie somerreënval te gee voor die winter. Intussen het die huidige La Nina-verskynsel begin verswak en is nou baie naby aan neutraal. Indien hierdie verwarmings-effek sterk genoeg is kan dit veroorsaak dat reënval vroeg kan ophou en dat die winter vinnig kan begin.

Daar is egter een of twee tekens wat aandui dat die kanse vir reën nog steeds goed is in die volgende maande voor die winter: Die vloede in suidoos Australië gedurende eerste week of twee van Maart, die droogte in gedeeltes van Suid-Amerika en Rusland asook die baie reën wat Namibië gekry het. Hierdie is nog tipiese tekens dat die La Nina-verskynsel se invloed nog nie verstreke is nie en indien die effek van tropiese laagdruksisteme en siklone oor die Indiese Oseaan begin afneem, daar nog somerreënval kan voorkom.

Intussen het landboutoestande oor die grootste gedeelte van die Somerreënvalgebied baie verswak. Die somergraanoes en veral die mielie- en sojaboonoes kry groot droogteskade en die kanse is goed dat daar vanjaar nie surplus somergrane geproduseer gaan word nie.

Weidingstoestande is ook swak en met die kuddebouproses van die afgelope paar seisoene kan die beskikbare weiding teenoor die aantal vee oor groot gedeeltes van die land buite verhouding wees. Dit kan ernstige probleme skep as grootskaalse bemarking van vee moet geskied wanneer die voedingsbronne en weidings uitgeput is wat die prys van lewende hawe kan laat daal. Met die min mielies gaan die prys van voer vanjaar baie duur wees en boere moet dit in gedagte hou.

Artikel deur Johan van den Berg, Bestuurder: Gespesialiseerde Oesversekering/Santam Landbou, Bloemfontein


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a George Herald