Pendel is een van die dinge waarin ek my deesdae verlustig al knou dit my sak. Een van die redes hiervoor is omdat ek die koring, wat nou al in die aar begin kom, van planttyd af kon dophou. Vir die afgelope ses maande sien ek, asof vir die eerste keer, die seisoene elk sy beurt op die dansbaan neem.
Tans, is die veldblomme my grootste genot.
Knap verby Kanon se draai, vang die namiddagson die plaat wit veldblommetjies teen ‘n helling. Die plaasopstal staan geduldig en wag dat die son westekant toe skuif.
Die blommetjies lyk soos kapok aan stingeltjies en wieg sussend tussen die familiekerkhof se grafstene. Dis so asof die natuur self daar ‘n ruiker gaan maak het.
Toe ek ‘n jong kind was, het ek op ‘n dag vir my ma ‘n donkerpers blom gepluk en dit vir haar as geskenk in ‘n eierkelkie gesit. Ek het my verwonder aan die fluweelagtigheid van die blomkelk. Groot was my skok toe ek die volgende dag ontdek dat die blom futloos soos ‘n teeragtige vlek teen die porselein van die eierkelkie kleef. Weg was die mooi.
Ek was kwaad dat die blom my in die steek gelaat het. En skaam dat my ma sou dink ek het haar iets minderwaardigs gegee. Met ‘n goeie begrip wat halwe woord benodig, verlig sy my wroeging. “Dis ‘n eendagmooi.”
Ek het nie begryp dat dit eintlik ‘n blomnaam is nie. Om die een of ander rede, het ek aanvaar haar stelling het ‘n dieper betekenis. Soos dat die blom en alles wat dit verteenwoodig, beide konkreet en abstrak, net vir die allerkortste wyle te geniete was. Vir ‘n lang tyd daarna nog het ek gewonder of dit nie beter sou gewees het as ek liewer nie die blom gepluk het nie. Dalk was dit dan langer as net een dag mooi.
Daar is ‘n passiewe stryd tussen die blomplukkers en die nie-plukkers in my my familie.
My pa se Karoomense glo dat die natuur gerespekteer en in vrede gelaat moet word. Vir my ma se mense, is ‘n bossie veldblomme in die hand weer ‘n stukkie hemel. Dit sou dus nooit anders kon wees as dat hierdie konflik in my eie gemoed sou voortwoed nie.
Ek wou stop, uitklim en teen die helling af deur die tulpe stap tot by die kerkhof, maar ek laat waai oor die laagwaterbrug. Die Gouritsrivier kronkel ongestoord deur die vallei. Met die kerkhof voor my geestesoog, laat dit my dink aan die Styx-rivier in die Griekse-mitologie, die grens tussen die aarde en die doderyk.
Met al hierdie beelde nog vars in my gedagtes kom die Psalmdigter se woorde: Die mens - soos die gras is sy dae; soos ‘n blom van die veld, so bloei hy. (Ps 103:15)
Die lente is darem skouspelagtig dink ek, al is dit so kortstondig. Soos die lewe, koggel daardie ander stem in my kop. Die een wat ons lewenslus en entoesiasme so maklik blus.
Toe ek die steilte anderkant die brug pak om uit die vallei te kom, brul my motor se enjin en dis kompleet asof ek ‘n wyse vriend se woorde daarin hoor eggo: “Lente is 'n kopskuif. Vermy die mense wat nooit die nuwe blomme en sonlig raaksien nie soos die pes.”
Stop. Pluk die bloeming blom en loop gee dit vir iemand wat ‘n stukkie sonskyn nodig het om te oorleef. Of as jy te aardig voel, neem ‘n foto met jou slimfoon, sit die op sosiale media en tag iemand wie se blad opmerklik vaal lyk.
Sit sommer ‘n hutsmerk ook by #eendagmooi
Want môre is wensdenkery.
Die lente is darem skouspelagtig dink ek, al is dit so kortstondig. Soos die lewe.
Die plaat wit veldblommetjies.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'