Gallery Video
TUINROETE NUUS EN VIDEO - Die South Africa Shore Angling Association (SASAA) se kushengel-kompetisie, waarin spanne van oor die land meegeding het, is tussen 14 en 18 Februarie in die Mosselbaai-omgewing aangebied met Eden Shore Angling as die gasheer.
Die senior mans se B-span en die ontwikkelingspan het in Mosselbaai deelgeneem, terwyl die kompetisie vir vroue dieselfde tyd in KwaZulu-Natal gehou is.
Volgens die hengelaars het 'n paar mooi visse vroeër verlede week uitgekom, maar by tye was dit meestal sandhaaie en klein visse aan die hoek.
Spanne van Boland, Grens, Sentraal-Gauteng, Oos-Kaap, Eden, Wes-Kaap, Zululand, KwaZulu-Natalse binneland en KwaZulu-Natalse kus het deelgeneem.
Daar is tussen 07:00 en 15:00 visgevang en die Donderdag het die hengelaars gerus.
Vrydag het hulle van 06:00 tot 14:00 kans gehad vir hulle laaste vangste. Voorgeskrewe aas is ook in die kompetisie gebruik. Die vis is gemeet en dan in die see teruggeplaas.
Die Boland-span se afrigters is twee vroue wat die manne op hul tone gehou het. Volgens dié vroue is dit 'n eerste dat die skoner geslag die mansspan bestuur. Christelle Oosthuizen, afrigter en self 'n Protea-hengelaar, sê dit het goed met hulle span gegaan.
FOTOGALERY: Kushengelkompetisie in die Tuinroete
In die senior B-afdeling het die KwaZulu-Natalse binnelandspan met 758,78 punte gewen, gevolg deur Oostelike Provinsie met 732,73 punte.
Foto's: Jannie du Plessis
Eden was in die derde plek met 579,78.
Die individuele afdeling is deur Werth Bouwer van Boland met 184,65 punte gewen. Tweede was Avlik Singh van die KZN binnelandspan met 142,06 punte en derde Deon Verster van OP met 132,30 punte.
In die ontwikkelingspan se spankompetisie het WP gewen met 369,49 punte, tweede was Eden met 362,52 punte en in die derde plek Zululand met 278,85 punte.
In die individuele afdeling het Altun Roelofse met 'n puntetotaal van 94,77 gewen.
Tweede was Nathan Chetty van Zululand met 93,27 punte en derde Pietie Mey van Eden met 88,35 punte.
Na afloop van die kompetisie is spanne gekies wat later die jaar in Namibië gaan visvang.
VIDEO: Nasionale kushengelkompetisie word plaaslik gehou
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'