GEORGE NEWS - Die jaar het vroeg afgeskop met 'n opwindende naweek van strawwe tennis toe die Eden-tennisproewe die afgelope naweek in George beslis is.
Altesaam 119 leerders het aan die proewe in die ouderdomsgroepe o. 11, o. 12 en o. 13 deelgeneem.
Die toernooi het van Vrydag tot Sondag gestrek en spelers moes drie intense uitkloprondes speel om 'n plek onder die top-12 in hul onderskeie ouderdomsgroepe te verower.
"Ons het regtig van die land se beste jong spelers hier gehad," het Ettiene van Zyl, organiseerder van die toernooi, gesê.
"Die o. 12-seuns, Zoran Meyer en Luc Botha, tans Suid-Afrika se nommer een en twee, albei van die Eden-streek, het teen mekaar gespeel."
Eden spog voorwaar met van die land se beste spelers. Raysean Appels, die nommer een o. 13-seun, is ook onlangs in die Suid-Afrikaanse skoletennisspan opgeneem.
Uit die top-12 in elke ouderdomsgroep sal agt gekies word om Eden by die Synergy Cup, wat later in Februarie plaasvind, te verteenwoordig. Die gasheerplek sal nog aangekondig word. Die Synergy Cup word tradisioneel tussen vier streke beslis, naamlik Eden, Cavaliers, Drakenstein en Platteland.
Raysean Appels
Volgens Van Zyl het al die spelers hulle goed van hul taak gekwyt en was die proewe 'n groot sukses. Hy het ook sy dank uitge-spreek teenoor die tennisbeamptes wat seker gemaak het dat die toernooi vlot verloop.
Rebekah Steyls
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’