GEORGE NUUS - Jong tennisspelers van oor die Eden- en Sentraal-Karoo-streek het Vrydag tydens die TSA RCS Rising Stars-tennistoernooi in George meegeding.
Die RCS Rising Stars-kompetisie bied laerskooltennisspelers die geleentheid om teen van die sterkste skole in hul streek mee te ding.
Benewens die eer om hul skole te verteenwoordig, ding spelers ook mee om vir die provinsiale kompetisie te kwalifiseer, met verdere deelname op nasionale vlak as die uiteindelike doelwit.
Agt skole het aan vanjaar se streekkompetisie deelgeneem: Laerskool Blanco, Laerskool George-Suid, Laerskool Hartenbos, Greenwood Bay Primary, Plettenberg Bay Primary, Laerskool Knysna, Laerskool Outeniqua en Laerskool Nico Brümmer van Beaufort-Wes.
Die kompetisie is in die oranjebal- en groenbalafdelings aangebied.
In die oranjebalafdeling het Laerskool Knysna die meisiesafdeling gewen, terwyl Laerskool Blanco as kampioene in die seunsafdeling gekroon is.
Groenbalwenners (seuns): MW Robertson, Barry Robertson, Janco Robertson en Wihandre Nel. Foto: Verskaf
Laerskool Blanco het ook die groenbal-seunsafdeling gewen, terwyl Laerskool George-Suid die groenbal-meisiesafdeling ingepalm het.
Die twee groenbalwenners, Laerskool Blanco se seunspan en Laerskool George-Suid se meisiespan, het daarmee gekwalifiseer vir die provinsiale RCS Rising Stars-kompetisie wat op 23 September plaasvind.
- Saamgestel deur Marguerite van Ginkel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’