Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Niemand het die uitslag in George Herald se rugbyraai-kompetisie reg voorspel nie, maar Eddie Louw van Oudtshoorn, het baie naby gekom. Hy het voorspel dat die Springbokke die Engelse Rose sou klop met 18 - 17. Die regte telling was natuurlik 16 - 15.
Dat daar groot belangstelling vir die stryd tussen Suid-Afrika en Engeland was, was duidelik uit die talle inskrywings. Meer as 800 inskrywings is ontvang.
Met sy voorspelling wen Louw 'n geskenkpak ter waarde van R500 van Upstairs at Harry's. Hy wen dit omdat hy die punteverskil die naaste aan korrek voorspel het. In die geskenkpak is onder meer heerlike biltong.
'n Verheugde Louw het Maandag gesê hy sal beslis Saterdagaand, 28 Oktober, wanneer die Springbokke teen die All Blacks in die eindstryd van die Wêreldbekertoernooi uitdraf, van die biltong nuttig.
Hy het afgelope Saterdagaand se wedstryd gekyk en het verwag dat die uitslag baie naby sal wees. "Ek is nie verras dat die punteverskil weer net een punt was nie."
Louw volg die toernooi en het elke naweek na die wedstryde gekyk. Behalwe vir vier wedstryde het hy elke keer die korrekte wenners voorspel.
Hy beskryf homself as 'n rugbyfanatikus wat ernstig is oor rugby.
Op skool het hy rugby gespeel en het oor die jare 'n baie goeie kennis van rugby opgebou. Hy is 'n groot Springbok-ondersteuner en ook 'n "groot, groot" Blou Bul-ondersteuner.
Hy glo die Springbokke behoort Saterdag-aand die knoop deur te haak en weer die Webb Ellis-trofee te lig.
Louw voorspel dat die Bokke gaan wen, maar het benadruk dat Handre Pollard in die Bokke se begin 15-tal moet wees. As dit gebeur kan Pollard net soos in 2019 weer die Wêreldbekertoernooi vir die Bokke wen.
Marietjie Louw, Eddie se eggenoot, het Dinsdag namens hom die prys in George in ontvangs geneem.
Willie Cilliers, eienaar van Upstairs at Harry's, het gesê dat hy met graagte die prys geborg.
Video - Eugene Gunning:
Aangesien dit Saterdagaand die eindstryd is, het hy besluit dat Upstairs at Harry's weer die kompetisie gaan borg en R1 000 beskikbaarstel.
'n Leser wat die korrekte uitslag voorspel staan 'n kans om die geld te wen. As daar meer as een korrekte inskrywing is sal 'n gelukstrekking gehou word.
As niemand korrek voorspel nie kan die leser wat die punteverskil die naaste reg voorspel het die prys wen.
Eddie Louw
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’