GEORGE RUGBY NUUS - In 'n oomblik van stilte voor die hoofwedstryd verlede Saterdag tussen die Kwaggas en Stellenberg in George is daar getreur oor die ontydige dood van 'n jong oud-Kwagga terwyl sy voormalige spanlede dié wedstryd aan hom opgedra het.
JP Terblanche (19) se liggaam is op Donderdag 10 Mei by die huis in George waar hy geloseer het, gevind.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, word daar geen misdaad in hierdie stadium vermoed nie en 'n geregtelike doodsondersoek word gedoen.
Terblanche wat in Februarie sy 19de verjaarsdag gevier het, het verlede jaar aan die Hoërskool Outeniqua gematrikuleer. Hy was in die seunskoshuis, Beyers-Tehuis en 'n baie gewilde rugbyspeler. Tydens sy skoolloopbaan het hy ondermeer vir die o.15- en o.16A-spanne uitgedraf en verlede jaar as slot vir die skool se eersterugbyspan.
Jacques Wolfaardt, Terblanche se rugbyafrigter sedert 2014, het aan die George Herald gesê dat hy 'n stil kind was wat nooit gekla het nie.
"Hy was een van die beste spelers wat ek al afgerig het. Hy was fisiek hard en het selfs deur beserings gespeel. Sy deursettingsvermoë en lojaliteit teenoor die span was onvoorwaardelik. Hy was eenvoudig 'n unbelievable kind," het Wolfaardt gesê.
Volgens JP se pa, Flippie Terblanche, het sy seun belowende planne vir die toekoms gehad.
"Hy was gelukkig by die werk. Ons het nog die vorige aand gesels. Hy was 'n taai en sterk seun. Gewild onder sy vriende en almal wat hom geken het, het van hom gehou. Die leemte wat hy los sal nooit gevul kan word nie. Ek sal tot my dood na hom verlang," het hy gesê. JP was Flippie se enigste kind.
JP word vanmiddag, Donderdag 17 Mei, om 14:00 in die NG Kerk Tuinedal ter ruste gelê.
Intussen stroom huldeblyke vir Terblanche op Facebook in:
Emmuel Minnie skryf: "Japes Grapes , jy word erg gemis vandag!!!" (Saterdag voor die wedstryd teen Stellenberg)
Damian Lucendo Cedares het onder meer geskryf: "Die dag toe ek jou vir die eerste keer in George-Suid sien en sien rugby speel het saam Mnr Anton het ek geweet dis 'n ou wat nog baie gaan bereik."
Priscilla Bensch skyf ook: "Jp, moeielik om te glo jy is nou weg na amper 4 jaar se vriendskap. Een persoon wat ek altyd op staat kon maak, van die min lojale vriende daar buite. Jy gaan gemis word Mnr.Terblanche. Jy sal nooit vergeet word nie."
*In a moment of silence before the main match, last Saturday between Kwaggas and Stellenberg in George, friends and family mourned the untimely death of the 19-year-old former Kwagga, JP Terblanche. Terblanche, who's body was found on Thursday 10 May at the house where he had been staying in George, celebrated his 19th birthday in February, matriculated at Outeniqua High School in 2017 and was a very popular rugby player at school. According to the Southern Cape police spokesman, Captain Malcolm Pojie, no foul play is suspected.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'