Gallery
GEORGE NUUS - 'n Toekomsblik op Suid-Afrikaanse rugby is die week op Outeniquapark te sien by die LSEN Cravenweek (Learners with Special Education Needs).
Die toernooi het Maandag 27 Junie begin en maak vandag (Donderdag 30 Junie) klaar. Toeskouers is welkom en toegang is gratis.
Dit is die 39ste keer dat die toernooi aangebied word en die eerste keer in baie jare weer in George. Dit is 2010 in Oudtshoorn aangebied. Altesaam 12 provinsiale skolespanne neem deel en sowat 350 spelers en beamptes is saamgetrek.
Dit is net soos die gewone Cravenweek en die spelers wat deelneem het buitengewone leerbehoeftes.
Dit word op 'n kompetisie basis beslis en uiteindelik speel die beste spanne teen mekaar. Die organiseerders het benadruk dit gaan nie oor 'n beker nie.
FOTOGALERY: LSEN-Cravenweek rugby op George
Na afloop van die toernooi word 'n SA LSEN-span gekies. Gewoonlik neem hulle na afloop van die geleentheid aan die Hoërskool Akademie-geleentheid deel, maar vanjaar gaan dit as gevolg van finansies nie gebeur. Die ouderdomsgroep is seuns o.18 en wedstryde word oor 70 minute beslis.
Nick Theunissen, voorsitter van LSEN in George en 'n organiseerder van die geleentheid, het gesê daar is ontsettend baie rugbytalent onder die spelers. In die verlede het van die spelers uitgestyg en later op senior provinsiale vlak gespeel. Daar is ook spelers wat dit tot by SA 7's gemaak het.
"Dis 'n eer wat 'n speler kry om sy unie te verteenwoordig." Daar is dalk selfs 'n toekomstige Springbok of twee onder die spelers.
Volgens hom beteken dit baie vir rugbyontwikkeling. Dit gee spelers geleentheid om hul talente te ontwikkel.
Daan-Louis Gerber, spanbestuurder en sekretaris van die LSEN SWD-span, het gesê dit gee spelers ander blootstelling aan die lewe. Dit help ook met rugbyontwikkeling in die streek.
George-burgemeester, Leon van Wyk, het Dinsdag ‘n draai op Outeniquapark by die LSEN Cravenweek gemaak. Van links is Brendan Adams (burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste, maatskaplike ontwikkeling, biblioteke en sport), Nick Theunissen (voorsitter van LSEN in George en 'n organiseerder van die geleentheid), Van Wyk en Veda Manie (algemene bestuurder van SWD-rugby).
Niel Bornman, ondervoorsitter van die Pumas LSEN, was Dinsdag nog steeds baie opgewonde oor die unie se seniorspan wat Saterdag die Curriebeker in Kimberley gewen het. Volgens hom is dit 'n inspirasie vir die jonger spelers.
Die Pumas LSEN-span het Saterdag die eindstryd bygewoon en het na die wedstryd na George vertrek. Hulle kon Saterdag die seniorspan in aksie sien en die spelers ontmoet. "Vir baie van hulle was dit 'n eerste om so 'n geleentheid by te woon. Dis boustene in hul lewens."
Dis glad nie onmoontlik dat van die LSEN-spelers later op die boonste vlak sal speel.
Ben Brinkhuis, waarnemende president van SWD-rugby, het gesê die aanbied van die geleentheid wys dat SWD as 'n gerekende unie beskou word. Dit gee blootstelling aan die seuns om op Outeniquapark te speel.
Die unie se doelwit is om die Cravenweek aanstaande jaar aan te bied. Dit sal saamval met die 100ste bestaansjaar van Outeniquapark.
Anton Moolman, hoofafrigter van die SWD Arende, het gesê dit is 'n fantastiese geleentheid vir rugby. Dit gee spelers geleentheid om hulself teen die bestes te bewys. Dis baie belangrik om gelyke geleenthede vir alle spelers te skep.
Die Vrystaat /Cheethas het Dinsdag die Pumas met 45 - 11 geklop.
Niel Bornman, ondervoorsitter van die Pumas LSEN.
Nick Theunissen, (links) voorsitter van LSEN in George en 'n organiseerder van die geleentheid en,Daan-Louis Gerber, spanbestuurder en sekretaris van die LSEN SWD-span. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'