SUID-KAAP RUGBYNUUS - Al kan hulle op die oomblik nie klubrugby in die SWD speel nie, laat minstens vier spelers hulle nie onderkry nie.
Freginald Africa, Arden (Raffie) Wesso en Lwando Maxeke, almal van Crusaders, en Leegan Moos van Evergreens, speel nou tydelik rugby in Namibië.
Hulle het verlede week na die buurland vertrek en sal moontlik reeds 29 April in hul eerste wedstryd uitdraf.
Africa is 'n flank, Wesso kan flank of slot speel, Maxeke is 'n haker en Moos kan losskakel of heelagter speel.
Dit kom na 'n onlangse besluit van die meerderheid klubs in die SWD, dat klubrugby as gevolg van die Covid-19-situasie, tot verdere kennisgewing nie hervat sal word nie.
Mike Louw, visepresident van Crusaders, het by navraag gesê die drie spelers van die klub het verlede Donderdag, 22 April, na Namibië vertrek. Hy het benadruk dat dit slegs tydelik is. "Dis iets groots vir Crusaders. Dit wys ons spelers is groot in aanvraag. Dis 'n baie groot eer en uitdaging vir die klub en spelers."
Shane November, sekretaris van Pacaltsdorp Evergreens
Volgens Louw is daar die moontlikheid dat nog spelers van die klub later by hul spanmaats sal aansluit. Dis 'n goeie ding dat die spelers tydelik daarheen gaan. "Hulle bly in oefening. Daar is sprake dat later vanjaar weer rugby in die SWD gespeel sal word. Sou dit gebeur, sal die spelers reg wees daarvoor."
Shane November, sekretaris van Evergreens, het bevestig dat Moos ook na Namibië vertrek het. Hy sal waarskynlik sewe tot agt weke daar speel. "Ons wens hom alle sterkte toe. Ons is van mening dat die streek daarby sal baat vind."
Moos het telefonies uit Namibië gesê hy het Saterdag daar aangekom. Sy motivering om daarheen te gaan is omdat daar op die oomblik nie klubrugby in die SWD gespeel word nie. "Dis 'n geleentheid en ek is lus om weer te speel." As gevolg van Covid-19 het hy laas in 2019 ernstig mededingende rugby gespeel. "Ek is baie opgewonde oor die geleentheid."
Leegan Moos van Evergreens in aksie. Foto: Anthony Delo
Moos en die drie ander spelers, speel vir die Reho Falcons en hulle is gebaseer in Rehoboth, sowat 90 km van Windhoek. Hennie Baartman, president van SWD-rugby, het gesê hulle het kennis geneem van die spelers se planne om in Namibië te gaan speel. SWD het geen probleem daarmee solank die klaringsgproses met die unie en Saru gevolg word.
As die spelers geleenthede kry om in ander provinsies of selfs ander lande te gaan speel is dit geen probleem nie. Hulle bly in oefening. "Dis tydelik en hulle kom terug. Hulle kan weer waarde toevoeg tot ons rugby."
President van SWD-rugby, Hennie Baartman.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'