Gallery
SUID-KAAP NUUS - Kolossaal, spannend, genadeloos, soms selfs brutaal ... woorde ontbreek om Saterdagmiddag se titaniese eindstryd in die SWD-rugbyunie se Super A-liga tussen die kampioen, Groot-Brakrivier, en Heidelberg te beskryf.
Met speeltyd verstreke was die telling gelykop: 25 - 25. Ná ekstra speeltyd van 20 minute weer sulke tyd: 32 - 32.
Dit was soos twee swaargewigboksers wat mekaar vuisvoos gemoker het in dié rugbygeveg en nie een wou bes gee nie.
Heelparty toeskouers en ondersteuners, saam met die afrigtingspanne van albei spanne, het seker naby aan 'n hartaanval gaan draai.
En die magtige dreunsang vanuit die hoofpawiljoen het die spanningsvlakke tot naby die planeet Mars opgejaag.
Johann Lerm, vermaarde afrigter van Groot-Brak, het die eindstryd as "uitstekend" beskryf. "Seker een van die bestes die afgelope klompie jare."
"Ja, natuurlik speel mens om te wen, maar ek dink tog die gelykopuitslag is 'n goeie weerspieëling van die 'oorlog' wat daar tussen die vier lyne gewoed het.
"Ons deel eerder die beker as om dit te verloor siende dat ons die afgelope twee jaar telkens die eindstryd gehaal het en in een aan die wenkant was," het Lerm gesê.
Groot-Brak het vir die grootste deel van die wedstryd die telbord aan die rol gehou, maar was teen rustyd agter met 10 - 11.
Met die hervatting het Groot-Brak sy spiere gebult en met twee vinnige drieë die telling na 22 - 11 opgeskuif. Heibi moes opvangrugby opdis om binne trefafstand te bly.
In ekstra speeltyd het Heibi weer die voortou geneem met 'n blitsdrie ná slegs 12 sekondes en desperaat vasgeklou aan sy voorsprong van 32 - 25.
Aan albei kante is daar twee aspekte van die spel wat uitgestaan het: klipharde verdediging en 'n veggees wat soms tornadosterkte bereik het.Die wedstryd het in 'n volgepakte Outeniquapark-stadion plaasgevind.
Die groot bulle aan albei kante het behoorlik die smaak uit hul teenstanders se monde gelak en dat daar nie meer ernstige beserings was nie, grens aan 'n wonderwerk.
Maar gee dit toe aan albei spanne; nie een het moed opgegee nie al het dinge in sekere stadiums van die wedywering droewig op die telbord gelyk. Sulke veggees is lanklaas gesien.
Die selfbeheersing en kalmte wat die spelers in dié drukkokersituasie getoon het, is lofwaardig en moet beslis as 'n voorbeeld vir die ander klubspanne dien.
Lerm het na afloop van die wedstryd gesê hulle het geweet Heidelberg gaan buitengewone eise aan Groot-Brak stel. "Hulle het spelbrekers waaronder hul kaptein, Lyndon Hartnick. Maar ons ervaring van die afgelope drie eindstryde het ons gehelp om koelkop te bly.
Hy sê die keerpunt het gekom toe Justin Williams (vaskopstut) af is met 'n besering en Marquin Smart, slot en kaptein van Groot-Brak, 'n geelkaart gekry het. "Dit het ons so ampertjies gepootjie."
Heidelberg se seisoen was aan die begin so versukkeld dat daar twyfel was of Hessequa se topspan wel die uitkloprondes sou haal. Tot oormaat van ramp het sy immer-indrukwekkende kaptein en agtsteman, Lyndon Hartnick, sy rugbystewels "tydelik" opgehang.
Jaco Michaels (met bal) en Winrich Kennedy (Brak).
Maar vandat Lyndon weer sy geliefde "jagveld" betree het, het Heibi vlamgevat en het sy veldtog in die Super A-liga nuwe momentum gekry.
Fernell Pretorius, voorspelerafrigter van Heibi, het in 'n onderhoud vertel Heibi se fokus het vanjaar geskuif na 'n sterk gesentreerde geestelike reis waar die besielende Lyndon Hartnick leiding gegee het.
"Ons het die pad saam met God gestap en Hy moet alle eer kry vir die talent wat hy uit ons klein plattelandse gemeenskap vir ons gegee het. 'n Klomp jong spelers het die Goddelike reis met entoesiasme omarm en dit het in ons spel begin wys. Danksy die Here se krag en genade kon ons in die taai eindstryd glo in ons eie vermoëns en het ons kalm gebly en nooit tou opgegooi nie."
Hy sê rugbyklubs, soos Heidelberg, het weer hoop gebring vir die gemeenskap op die platteland.
"Ons deel nou wel die beker, maar die glimlagte op ons toeskouers se gesigte en hul uitbundige ondersteuning was so goed soos om wel die beker te wen. Ons is hulle baie dank verskuldig."
Fernell het die loskopstut Marico-Leigh Radloff uitgesonder vir sy fantastiese skrumwerk en gesê hy was "verwoestend met die bal in die hand." En dan natuurlik die besielende leierskap van Lyndon wat "soos 'n ware Trojaan sy troepe gelei het. Sy teenwoordigheid het 'n groot kalmte onder die spelers gebring."
Bravo aan beide spanne wat dié eindstryd in 'n rugbysprokie omskep het. Daar gaan nog lank oor die vurige stryd gesels word.
Klik hier vir 'n fotogalery: Brak en Heibi speel gelykop in SWD Superliga A-eindstryd
Brak se haker, Duke Jantjies, probeer die Heibi-stut, Maurico Radloff, plattrek.
Die kapteine, Lyndon Hartnick (links) en Marquin Smart, deel die beker. Foto's: Kristy Kolberg‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’