GEORGE-NUUS - Rugbyleiers van die SWD wat veronderstel is om geweld in en rondom rugbyvelde te besweer, het Saterdag in die vergadersaal slaags geraak en vuishoue uitgedeel. Mnr. Johan Prinsloo, uitvoe-rende hoof van SA Rugby-unie, moes self tussenbeide tree.
Nou word die vraag gevra hoe geweld op die velde hokgeslaan moet word as die leiers se gemoedere in vergadersale oorkook?
Hierdie is maar net nog ‘n ronde in die geveg tussen die onderskeie faksies in SWD Rugby en mnr. Dawie Groenewald, lid van Saru se uitvoerende raad, het self opgemerk dat hy aanbevelings oor likwidasie van SWD Rugby en die Eagles-maatskappy gaan doen omdat daar nie hoop vir versoening is nie.
Tydens die ope vergadering wat in die King George Hotel se konferensiesaal gehou is, het dit aan die lig gekom dat beskuldigings van finansiële wanbestuur teen mnr. Stag Cronjé, vorige president van SWD, ongegrond was.
Saru het by monde van Groenewald dit duidelik gestel dat geen finansiële onreëlmatighede gevind kon word nie nadat Saru herhaaldelik ‘n uitnodiging tot die huidige interimbestuur gerig het om met bewyse na vore te kom.
Die ouditeure se verslag het dit ook bevestig.
Cronjé se ondersteuners het geëis dat diegene wat die mosie van wantroue destyds teen hom en sy bestuur ingedien het, aanspreeklik gehou moet word en openbare verskonings moet aanteken.
Die Cronjé-kamp het ná die vergadering in ‘n persverklaring gesê dat die bewerings wat gemaak is dat Bunker Capital en die LED-fonds ‘n piramiedeskema is, met syfers weerlê is en dit is bewys dat Bunker Capital sy ooreenkoms ten volle nagekom het.
"Saru het bevestig dat die huidige interimbestuur onlangs met die direksie van die LED-fonds en ‘n Saru-afvaardiging in Groot-Brakrivier vergader en selfs probeer het om die bestaande transaksie te vervang met ‘n nuwe transaksie met die LED-fonds."
Cronjé sê dit is laakbaar en hy het die sakemanne wat onder die vaandel van Christenskap ook hierby betrokke was, ernstig veroordeel.
"Hoe kan jy leuens vertel, mense agteraf in die rug steek en sien dat mense vir vyf maande sonder ‘n inkomste is en dit onder die vaandel van Christenskap doen. Dit alles om jou eie agendas te verdoesel."
Hy sê in die verklaring dat dit sulke dinge is wat hy sal beveg, al staan hy stoksielalleen.
"Ek sal nie skroom om sulke ongeregtighede na die oppervlak te bring nie," lui die verklaring.
By Saterdag se vergadering het dit ook aan die lig gekom dat die Unie die afgelope tyd sekere personeel van die Arende-maatskappy onderdeur die tafel betaal het.
"Dit is baie duidelik dat die bruin personeel betaal is en die blankes nie. Die verskoning is dat dit noodsaaklike dienste was wat verrig moes word en dat die interimbestuur dit goedgekeur het.
"Die vraag is onvermydelik waarom die finansiële bestuurder, wat blank is, se diente nie as belangrik geag is nie. Dis baie duidelik uit die ouditeursverslag dat die unie nie die nodige finansiële inligting op die stelsel kon laai nie.
"Dit is tydens die vergadering deur John Bruinders bevestig dat hy teenwoordig was toe daar besluit is om van alle blankes in rugby in die SWD ontslae te raak," aldus die verklaring.
Ten opsigte van die likwidasiedreigemente beweer die verklaring dat die unie die Arende-maatskappy miljoene rande skuld.
"Dit het ook uit finansiële state na vore gekom dat die unie reeds bykans R800 000 aan regskostes betaal het, sommige daarvan uit ontwikkelingsgelde. Cronjé self se kostes beloop ver minder as die helfte hiervan."
Cronjé het ook bevestig dat daar nog ‘n appél hangende is teen die uitspraak wat onlangs teen hom beslis is. Sou die appél in sy guns beslis word, sal die unie ook vir sy regskostes verantwoordelik gehou word.