GEORGE RUGBY NUUS - Inwoners van George sal môre, 24 Julie, se rugbytoets tussen die Springbokke en die Britse en Ierse Leeus in Kaapstad met meer as gewone belangstelling dophou.
Duhan van der Merwe, wat op vleuel vir die Leeus uitdraf, het in George grootgeword en was ook hier op skool.
Sy ouers, Alhan en Dulene van der Merwe en sy tweelingsussie, Simoné, woon steeds in George. Sy ouer, broer, Armand, wat ook van George kom, het al vir die Springbokke uitgedraf.
Duhan het reeds 'n paar keer in die rooi trui uitgedraf en het uitgeblink. Sy spel word nou beloon met insluiting in die begin 15-tal van die Leeus teen die Springbokke.
Groot belangstelling heers vir die toets.
Ofskoon hy en Handré Pollard die Springbokke se losskakel more, in 2012 saam vir die SA Skolespan gespeel het, is hulle more teenstanders.
In die Van der Merwe huishouding is daar groot opgewondenheid oor more se wedstryd. Hulle gaan die wedstryd op televisie volg. Geen toeskouers word by die veld toegelaat nie.
Dulene het vanoggend aan George Herald gesê hulle is baie bly dat Duhan gekies is vir die eerste toets.
Dit maak dit meer spesiaal want mense is ook geneig om te vergeet dat hy nog nie eens ‘n jaar internasionale rugby speel nie.
“Ons gaan beslis rooi en groen bloed more hê. Ons hoop dat als goed sal gaan in die wedstryd met hom en dat hy net sy beste sal gee.
“Dis jammer ons kan nie die wedstryd bywoon of hom voor of na die tyd sien nie want hulle is in hard bubble.”
Piet Cloete, adjunkhoof sport van Hoërskool Outeniqua, het gesê die skool is baie trots op Duhan en daar word uitgesien na die wedstryd.
Cloete ken Van der Merwe baie goed. Hy het hom afgerig vandat hy in gr. 8 by die skool gekom het en het ook vir hom klas gegee in besigheidstudies.
Cloete sien baie uit na die tweestryd tussen Van der Merwe en Cheslin Kolbe, die Springbokke se vleuel en sy direkte teenstander.
Kolbe word in sommige kringe in die stadium as die beste rugbyspeler in die wêreld beskou. “Dis amper soos Dawid teen Goliat. Elkeen het sy eie kwaliteite.”
Op die vraag vir wie hy gaan skreeu het Cloete geantwoord: “In my hart sal ek altyd ‘n Springbok wees, maar ek hoop Duhan druk ‘n pragtige drie.”
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'