SPORTNUUS - Die jong rugbyloopbaan van George se eie Jandrian Goosen bereik nuwe hoogtes met 'n reeks wedstryde as Junior Springbok teen internasionale spanne wat in die Kaap kragte meet.
Komende Saterdag, 30 Mei, trek sy span weer groen en goud aan vir hul wedstryd teen Georgia by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch. Jandrian sal vandag hoor of hy ook daar 'n kans op die veld gaan kry.
Die oudleerder van Laerskool Outeniqua en Hoër Landbouskool Oakdale speel tans vir die Blou Bulle in Pretoria, waar hy ook aanlyn BCom Beleggingsbestuur deur Stadio studeer.
Jandrian het verlede Donderdag, 21 Mei, sy buiging vir die Junior Springbokke gemaak in hul oorheersende 97 - 0 oorwinning teen Chile by Rondebosch Boys' High. Dinsdag het hy weer vir die span uitgedraf teen Fiji by Wynberg Boys' High.
In 'n Instagram-inskrywing het Laerskool Outeniqua hul oudleerder gelukgewens met sy debuut as Junior Springbok.
In aksie op die veld verlede Donderdag, 21 Mei.
Volgens sy ma, Ineke, het Jandrian se liefde vir rugby reeds vroeg begin danksy sy afrigters by Laerskool Outeniqua, Charl Kitching en Jacques Meyer. "Dit was hulle wat die liefde vir rugby by hom gekweek het, en die basiese beginsels vasgelê het," vertel sy.
Sy sê ook ure se grasperkrugby saam met ouboet Janco en sy vriende, Paul en Jacobus de Villiers - beide bekende name in rugbykringe - het 'n groot rol in sy ontwikkeling gespeel.
"Dit was altyd so 'onregverdig', want die twee ouer boetas het altyd teen die kleintjies gespeel, maar nou is hulle baie dankbaar daaroor."
Hoewel sy rugbyloopbaan nie sonder uitdagings was nie, het Jandrian se deursettingsvermoë hom ver gebring.
"In sy matriekjaar, met sy heel eerste wedstryd teen Grey College, het Jandrian sy sleutelbeen gebreek. Hy was daarna vir byna die hele seisoen buite aksie. Dit is te danke aan die feit dat hy in sy graad 11-jaar tydens Cravenweek raakgesien is dat hy nou 'n geleentheid het om vir die Blou Bulle te speel," sê Ineke.
In aksie op die veld verlede Donderdag, 21 Mei, met sy no. 21-trui.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’