RUGBY NUUS - Die komende Ebrahim Patel-gemeenskapsbeker wat gedurende die Paasnaweek gespeel word beloof om 'n hoogtepunt op die plaaslike rugbykalender te wees met opwindende aankondigings wat onlangs gemaak is.
Dit sluit in die toevoeging van 'n voorwedstryd tussen Hoërskool Pacalts-dorp en Groot-Brakrivier op 19 April sowel as die 2026 Wildcard kwalifiserende-wedstryd tussen George-rugbyklub en Crusaders-rugbyklub.
Die Paasnaweek-toernooi skop alreeds op 17 April af.
Die wenner van die Wildcard kwalifiserende-wedstryd sal verseker wees van 'n plek in die volgende jaar se toernooi.
Romano Lekay, die organiseerder van die toernooi het bevestig dat 2024 se SWD Super A-liga puntestand in ag geneem is met die seleksie van spanne wat in die 2026 se Wildcard kwalifiserende-wedstryd sal speel.
Op 20 Maart sal 'n regstreekse trekking in George plaasvind om te bepaal teen wie die spanne in die toernooi gaan speel.
Die venue sal later in die media bekend-gemaak word.
Die spanne ter sprake sluit Groot-Brakrivier, Safcol United, Gardens RFC EC, St George's RFC, Heidelberg, Bridgton van Oudtshoorn, Robertson (Town), die huidige Boland-klubkampioen en Harlequins van Gqeberha in.
Springbok en ambassadeurskap
Elke klub wat deelneem aan die toernooi sal ook die geleentheid kry om 'n nasionale speler uit hul geledere af te vaardig. Hierdie speler sal voortaan as ambassadeur vir die toernooi optree wat die profiel van die toernooi verder sal verhoog.
Eerbetoon aan Ebrahim Patel
Die Ebrahim Patel-gemeenskapsbeker-toernooi is vernoem na die legendariese Ebrahim Patel, die eerste president van die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie (Sarfu).
In 1992 het hy saam met wyle dr. Danie Craven, die pos van eerste uitvoerende president van Sarfu gedeel.
Patel was 'n skoolhoof van beroep en het byna vier dekades van sy lewe aan nie-rassigheid en rugbyeenheid gewy.
Hy is op 21 Februarie 2022 in die ouderdom van 78 jaar oorlede.
Bridgton-rugbyklub en Heidelberg se voorsitters, Leezl Wilkens en Hein Vollenhoven, sal 21 Februarie saam met Lekay regstreeks by Rugby Kamos in Montagu wees om Patel se herdenking te vier, presies drie jaar na sy dood.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’