GEORGE NUUS - Die SWD Arende is gisteraand op 'n sopnat Outeniquapark uit die Curriebeker se Eersteliga geboender toe die Luiperds hulle met 26 - 19 geklop het.
Swak taktiese skopwerk, 'n gesukkel in die lynstane - en soms in die skrums - en swak verdediging het die Arende duur te staan gekom met die Luiperds wat hul foute uitgebuit het.
Soos in hul voorafgaande drie wedstryde het die Arende 'n swakkerige begin gehad, maar ná die omdraaislag weer mooi teruggeveg om die telling laat in die tweede helfte op 19 - 19 te staan te bring. Die tuisspan se agter- en voorspelers het die besoekers se doellyn verwoed aangeval en met goeie ondersteunende spel soms onder groot druk geplaas.
Net om met 'n volgende beweging weer ongedwonge foute te maak en die Luiperds toe te laat om hul momentum te breek.
Tog was die Luiperds die beter span op die veld en het hulle met dié oorwinning die Arende se Curriebeker-drome gekelder.
Vir die Arende het sy kaptein en flank, Damon Royle, en die slot Michael Cloete uitgeblink. Royle het 'n barshou gespeel en met sy talle kraglopies die Luiperds behoorlik laat bontstaan. Cloete het met sy duikslae verskeie belowende bewegings van die Luiperds gefnuik.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’