GEORGE RUGBY NUUS - Die o.13A-rugbyspanne van Laerskool Outeniqua en Laerskool George-Suid het mekaar verlede Maandagmiddag in 'n opwindende wedstryd met mening aangevat.
Die wedstryde, wat in 'n goeie gees gespeel is en deur 'n groot aantal toeskouers bygewoon is, was 'n goeie advertensie vir die krag van laerskoolrugby in die Suid-Kaap.
Outeniqua se agtsteman, Laurence Lamini, wat 'n driekuns behaal het, het 'n groot rol gespeel dat George-Suid die onderspit gedelf het.
Lamini het met kraglopies sy span telkemale oor die voordeellyn geneem en het ook rotsvas verdedig.
Laurenze Lamini, kaptein en agtsteman van Laerskool Outeniqua se o.13A-span, het 'n driekuns aan drieë behaal en sy span gehelp om George-Suid te klop.
Zander Nel (flank), Kerwin Scott (regtervleuel) en Sphe Nzama (linkervleuel), het Outeniqua se ander drieë gedruk. Leemar Pedro (skrumskakel) klits drie doelskoppe oor.
George-Suid se drieë is gedruk deur hul skrumskakel, Juan Barnard, Erick Steyn (agtsteman, 2) en Ruan van Rensburg (haker, 2). Luca Potgieter (losskakel) slaag met drie doelskoppe.
George-Suid se o.11 A-span het met opwindende hardlooprugby vir Laerskool Outeniqua geklop.
Keanan Myners (agtsteman) wat 'n driekuns behaal het, het 'n barshou gespeel. Jandre Nell (flank) is ook oor vir 'n drie. Ruben van Solms (skrumskakel) klits 3 doelskoppe oor.
Outeniqua se spoedvraat, Rowan Mafutu (buitesenter), het twee pragdrieë gedruk. Jacobus de Villiers (agtsteman) is ook oor vir 'n drie. Jandrian Goosen (losskakel) slaag met 'n doelskop.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'