GEORGE RUGBYNUUS - Dis nie aldag wat 'n klompie skolerugbyafrigters glimlag nadat hulle 'n taai kragmeting op hul tuisveld verloor het nie.
Maar wie kan die Kwaggas se eerstespanbreiers verkwalik as hulle nie in sak en as was nadat die gedugte Paarl Gimnasium hulle verlede Saterdag hier in George naelskraap met 11-8 geklop het nie.
In wat beskryf word as een van die hardste skolerugbykragmetings wat nog ooit by die Kwaggas afgespeel het, het die tuisspan hul veel meer gerekende teenstanders, wat tans in die tweede plek op die skoleranglys in Suid-Afrika lê, harde bene laat kou voordat die Paarliete as oorwinnaars van die veld kon stap. Die Kwaggas is tans in die negende plek.
Die sug van verligting van Paarl Gim se spelers, afrigters en ondersteuners kon tot in Timbuktu gehoor word. En agterna het die Paarl-afrigters erken hulle was gelukkig om te wen.
Casten Michaels (vleuel) beland regs op sy rug met 'n speler van Paarl Gimnasium wat ook kennis maak met die grond.
Matthew Thorne (heelagter) korrel pale toe.
Die Kwaggas het sweerlik hul beste vertoning vanjaar gelewer. Hulle het nie net die meeste van die fasette oorheers nie, maar ook die meeste aanvalswerk gedoen. Boonop was hulle ongelukkig om nie nog twee keer te gaan druk nie.
Paarl Gim se verdediging verdien egter 'n pluimpie.
Voorlangs het Zander Bezuidenhout (stut) en Corné Stuwig (slot) geskitter en agterlangs was Abré Minnie (skrumskakel) uitstekend en het hy sy direkte teenstander, wat in die SA skolespan opgeneem is, heeltemal oorheers. Tinsley Stuurman het ook uitgeblink op senter.
Dis duidelik die Kwagga-afrigters - Abré Minnie snr, Jacques Wolfaardt, Henry Grimes en Jandré Blom - het amper 'n waterdigte plan teen Paarl Gimnasium gehad en gesorg dat hul spelers deeglik voorberei was vir dié grote. Dit was so ampertjies. Hulle mag maar breëbors rondloop.
Tinsley Stuurman (senter)
Die SWD Arende se o.18-span wat in Bloemfontein aan die SA Cravenweek deelgeneem en uitstekend van hulself rekenskap gegee het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'