GEORGE RUGBY NEWS -"Ons is verheug dat CJ-hulle na Suid-Afrika terugkeer," het Jannie Stander, pa van die Suid-Afrikaans gebore CJ Stander gister, Woensdag 17 Maart, aan George Herald gesê.
Die 30-jarige Stander, wat oorspronklik van George kom, het Dinsdag sy skok-aankondiging uit rugby bekendgemaak. Stander is een van Ierland se staatmakerspelers en het ook al die Britse en Ierse Leeus verteenwoordig.
CJ se ouers boer net buite George.
Voordat hy in 2012 na Ierland vertrek het, het hy al naam in Suid-Afrika gemaak. Hy het onder meer op provinsiale vlak gespeel en was ook die SA skolekaptein. Daar is selfs van hom gepraat as 'n toekomstige Springbokkaptein. Hy het sy heil in Ierland gesoek nadat dit duidelik geword het dat hy nie maklik vir die Springbokke gekies sal word nie.
Jannie het gesê CJ, sy eggenoot, Jean-Marié en hul dogtertjie, Everli, kom sak en pak terug na Suid-Afrika.
Jean-Marié het op haar dag self internasionaal in swem meegeding en haar broer is Ryk Neethling, voormalige Olimpiese swemmer.
"CJ gaan sy eiendom in Ierland verkoop en die twee honde kom ook saam."
Volgens Jannie het CJ sowat twee maande gelede met die afrigters van Ierland en Munster, sy tuisspan, gepraat oor sy voorneme om uit te tree.
"CJ het alles daar bereik wat hy wou bereik. Hy speel op 'n hoë vlak en hy is beseringsvry. Daar is nuwe opkomende spelers en dis nou 'n goeie tyd om terug te keer na Suid-Afrika. Hy wil op 'n hoogtepunt uittree."
Hy sal nog tot die einde van Junie in Ierland speel. Saterdag draf hy vir Ierland teen Engeland uit. Hy is beskikbaar om gekies te word vir die Britse en Ierse Leeus wat veronderstel is om later vanjaar in Suid-Afrika te toer.
CJ het hom 'n tyd gelede van sy planne vertel. "Ek was geskok, maar hy het dit toe vir my verduidelik. Ek het vir hom gesê: 'Seun jy is 'n grootman en ek respekteer jou besluit. Ek het toe in Engels vir hom gesê: My son life goes on'. "
CJ Stander en sy pa Jannie Stander.
Jannie het benadruk dat CJ nie rugby in Suid-Afrika sal speel nie. Dis wel moontlik dat hy by ander aspekte van die spel betrokke kan raak soos administrasie.
CJ en sy gesin sal in die Paarl woon waar hy betrokke gaan wees by die eiendomsmark. Hy sal George gereeld besoek en dis nie uitgesluit dat hy ook hier by die sakewêreld betrokke kan raak nie.
"Ek is 'n tevrede en trotse pa. Amanda (CJ se ma), Janneman (CJ se jonger broer) en ek is baie opgewonde oor hul terugkoms."
CJ Stander, well known international rugby player, made a shock announcement on Tuesday that he is going to retire at the end of the rugby season in Europe in June. Stander is at the moment one of Ireland’s key players and he has also played for the British and Irish Lions. He grew up in George and he and his family will settle in Paarl.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'