RUGBYNUUS - Vir Janneman Stander, 30-jarige kaptein van die Phangela Suidwestelike Distrikte (SWD) Arende, is die feit dat hy in die nuwe seisoen sy honderdtal gaan bereik 'n groot aansporing om steeds sy beste te lewer op die rugbyveld.
Dié woelige nommer-flank het in 2018 uit die spel getree, maar Anton Moolman, afrigter van die Arende, het hom verlede jaar oortuig om weer die stewels aan te trek en die honderdtal is die groot wortel wat hy nou jaag.
Met die Arende, wat vanmiddag op D'Almeida Park op Mosselbaai teen die Kaapse CUT Varsitybeker-span kragte meet, is dit vir Stander belangrik dat daar gewerk word aan die strukture wat hulle vestig sodat alles in plek sal val wanneer die seisoen in Februarie 2024 uiteindelik afskop. Die Kapenaars het vroeër vanjaar in 'n promosie-relegasie wedstryd teen die Oos-Kaapse Madibaz hul plek in die Varsitybeker-reeks behou deur die Baai se manne ordentlik met 91-10 onder die stof te loop.
"Dit is bietjie van 'n frustrasie dat daar so 'n lang verloop is van ons die eerste keer bymekaar gekom het, maar aan die anderkant gee dit ons ook die geleentheid om te werk aan die strukture, wat ons graag in plek wil hê. Met sowat 10 nuwe gekontrakteerde spelers in die groep is dit ook 'n gulde geleentheid om dié ouens te laat inskakel en hulle soveel as moontlik blootstelling te gee in die voorseisoense wedstryde waarin ons betrokke is," het Stander gesê.
Anders as sy gevierde ouer broer, CJ Stander, wat in 51 toetse vir Ierland en een toets vir die Britse en Ierse Leeus gespeel het, was daar by Janneman nooit die begeerte om dieselfde roete te volg nie. Ofskoon daar wel aanbiedings was, is die SWD sy hartsplek en dis hier waar hy 'n impak wil maak. "Alles is hier. Die plaas waar my pa-hulle is en my besigheid. Dis hier waar ek my stempel wil afdruk en vir my sal dit 'n geweldige eer wees om 100 wedstryde vir die Arende te kan voltooi," het hy gesê.
Stander kan ook nie uitgepraat oor die manier waarop Moolman en sy afrigtingskorps hom en die spelers bestuur nie. "Anders as die groter franchises, het ons nie soveel spelers om op terug te val wanneer byvoorbeeld beserings deel van die pakkie word nie. Die reserwekrag is dus aan die dun kant en dit verg buitengewone bestuursvernuf om almal te akkommodeer en seker te maak dat rehabilitasie in die geval van beserings na behore uitgevoer word," het hy gesê.
Ná vanmiddag se wedstryd sal die Arende waarskynlik van die 15de Desember 'n welverdiende blaaskans kry voor hulle vroeg in Januarie weer laer trek.
"Daar is 'n hele paar ouens, wat van vêr kom in ons groep en dit gaan aan hulle die geleentheid bied om darem oor die Kersseisoen met hul families deur te bring. Hulle sal egter nie kan laat slaplê nie. Elkeen sal 'n volledige oefenprogram gegee word sodat hulle darem met basies dieselfde fiksheid sal terugkeer wanneer ons dan weer bymekaarkom," het Stander gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’