GEORGE NUUS - Die kwotastelsel van Suid-Afrikaanse rugby gee steeds die Wes-Kaapse leier van Icosa, Dawid Kamfer, hoofbrekings.
Bradley Benades, die nasionale tesourier van Icosa, het aan die George Herald bevestig dat dit Icosa se beleid is om weg te doen met die gebruik van 'n kwotastelsel in alle rugbyspanne en alle spanne op meriete te kies.
Kamfer het Maandag ten aanskoue van 'n groot groep Icosa-ondersteuners 'n versoekskrif aan Vanessa Roelfse, waarnemende uitvoerende hoof van SWD-rugbyunie, by Outeniquapark oorhandig.
Roelfse het die skrywe namens die president, Hennie Baartman, ontvang. Die versoekskrif bestaan uit ultimatums wat aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), Thulas Nxesi, die minister van sport en ontspanning, die olimpiese komitee (Saskok) en Cosatu gerig is.
Kamfer wou aanvanklik 'n Springbok-rugbytrui verbrand, maar George-munisipaliteit het dit afgekeur.
Kamfer het op 'n vorige geleentheid, voor die Rugby-wêreldbeker, 'n Springboktrui in Mosselbaai verbrand.
"Ons wil graag vir die wêreld daarbuite wys hoe ernstig ons voel oor die saak. Ons het 'n passie vir rugby," het Kamfer gesê.
"Dit is die derde keer dat 'n bruin afrigter, die trekpas kry sonder dat hy 'n regverdige kans gekry het. Vroeër was dit Eric Sauls en Pieter de Villiers, en nou is Allister Coetsee weggejaag.
"Dit het gebeur onder 'n donker wolk, sonder dat die feite aan die lig gekom het. Ons glo Coetsee is nie die regte tools gegee om sukses te behaal nie."
Kamfer het gesê daar is genoeg "spelers van kleur" om in die Springbokspan geakkommodeer te word.
"Die mafia binne die rugbybestuur moet die eerbare ding doen en bedank. Hulle integriteit hang in die lug," het Kamfer gesê.
Roelfse het by navraag gesê die unie wil geen kommentaar oor die aangeleentheid lewer nie.
"Ek het die versoekskrif na Saru aangestuur, maar het op die stadium geen terugvoer van hulle gekry nie," het sy gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'