GEORGE NUUS - Daar is hard meegeding tydens Saterdag 6 Augustus se FNB Classic Clashes toe Hoërskool George en Pacaltsdorp Sekondêr se o.19 A-seunsrugbyspanne mekaar die stryd aangesê het, maar ongelukkig kon daar net een wenner wees.
Hoërskool George het die wedstryd met 31 - 3 gewen. Die wedstryd is op die veld van Pacaltsdorp beslis. Daar is ook meegeding in ander ouderdomsgroepe rugby en sokker en netbal.
Hoërskool George se o.18-dogter-rugbyspan het ook gewen met 19 - 0. Die ander rugbyspanne het ook nie teleurgestel nie en al die wedstryde gewen.
In die netbal het Hoërskool George twee wedstryde gewen, in een gelykop gespeel en een verloor. In die sokker het Pacaltsdorp gewen.
Darren Arries was die hoofafrigter van die o.19 A-seunsspan. Hy is bygestaan deur twee hulpafrigters, Jason Wagman en Virgill Las en die spanbestuurder Linzy Smith.
Arries, wat ook die rugbykoördineerder by die skool is, het Maandag gesê die skool is baie trots op sy sportspanne. Daar was groot belangstelling en die paviljoene was volgepak.
Die vorige hoofwedstryd is laas in 2019 gespeel en toe was Pacaltsdorp aan die wenkant.
Die afgelope Saterdag was die rustyd-telling 12 - 3. Aan die begin was dit 'n baie harde wedstryd, maar in die tweede helfte het Hoërskool George die oorhand begin kry. Die span het toe sy gewone normale rugby van vanjaar gespeel en vier keer agter die doellyn gaan kuier en ook 'n strafdrie gekry.
Die skool is ook baie trots op twee van sy leerlinge, Sharohn Morris en Shannon-Lee Windvogel.
Hulle is opgeneem in die SWD o.18-dogterrugbyspan en is ook gekies vir die Junior Springbokke en sal gedurende Augustus teen Zimbabwe speel.
Sharohn Morris (links) en Shannon-Lee Windvogel wat in die Junior Springbokke (dogters) opgeneem is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'