GEORGE NUUS - Inwoners van George is saam met die res van Suid-Afrika bly oor die Springbokke se oorwinning in die Wêrelbekertoernooi. Hulle vier egter sommer ook ekstra fees want twee oudinwoners, Manie Libbok en Duhan van der Merwe het hul merk tydens die toernooi gemaak.
Die kersie op die koek was toe Libbok en Van der Merwe beide genomineer is vir twee van wêreldrugby se gesogte toekennings.
Libbok, wat vir die Springbokke uitdraf, as deurbraak speler van die jaar en Van der Merwe, wat vir Skotland speel, vir drie van die jaar (mans).
Teen Sondagaand, toe dit al by baie Suid-Afrikaners begin insink het dat die Springbokke weer die wêreldkampioene is, het nog goeie nuus gekom. Van der Merwe het sy afdeling gewen. Dit was vir sy drie vanjaar vir Skotland teen Engeland op Twickenham. Dit het die tonge los gehad en daar kan aanvaar word daar gaan nog baie lank oor die drie gepraat word.
Ofskoon Libbok nie die toekenning as deurbraak speler van die jaar ontvang het nie word dit steeds as 'n groot eer beskou dat hy as een van die finaliste vir die toekenning genomineer was.
Libbok en Van der Merwe is oudleerders van by Hoërskool Outeniqua.
Van der Merwe het sy skoolloopbaan daar in 2013 voltooi en Libbok in 2015.
Interessant genoeg het hulle Sondag 10 September tydens die toernooi teen mekaar gespeel. Vir die Springbokke en Skotland was dit beide hul eerste wedstryde van die toernooi. Die Springbokke het uiteindelik 19 - 3 gewen.
Sover bekend was dit die eerste keer dat die twee teen mekaar gespeel het. Duhan en Manie het op skool in verskillende ouderdomsgroepe gespeel.
Duhan se ma Dulene het Dinsdag 31 Oktober gesê sy en Alhan is baie trots op hul seun.
"Duhan het nie die toekenning verwag nie. Hy is bly dat hy genomineer is en toe erkenning gekry het."
Duhan was onlangs vir 'n kort besoek in Suid-Afrika waartydens hy onder meer ontspan het deur gholf te speel.
Hy is reeds terug in die buiteland waar hy sy rugby verpligtinge hervat het.
Hoërskool Outeniqua
Piet Cloete, adjunkhoof: sport van die Outeniqua, het Dinsdag gesê die skool is baie trots op Van der Merwe en Libbok. Cloete het beide spelers op skool afgerig en toe reeds gedink hulle sal dit ver bring.
Volgens Cloete is die skool ook trots op Akker van der Merwe, Duhan se broer. Akker is ook 'n oudleerling van die skool. Hy het al vir die Springbokke uitgedraf en het onlangs na Suid-Afrika teruggekeer. Hy het in die buiteland gespeel. Hy speel deesdae vir die Bulls wat in Pretoria gesetel is.
Cloete het gesê die skool gaan in die toekoms probeer om al drie spelers saam by die skool te kry.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’