GEORGE NUUS - Twee talentvolle hoërskoolseuns, met 'n blink sporttoekoms voor hulle, se drome om aan twee groot sportgeleenthede te gaan deelneem, kan weens 'n tekort aan geld aan skerwe lê.
Dié een blink uit op die rugbyveld; die ander stap die wêreld aan die brand.
Darryn Fortuin, 'n leerder by Hoërskool Outeniqua en blitsige vleuel van die Kwaggas se eerste rugbyspan, is gekies in Dallas, Amerika, aan die Dallas Harlequins se internasionale sewesrugbytoernooi vir o.19-spanne deel te neem.
Veertien internasionale spanne gaan van 27 Junie tot 3 Julie daar in aksie wees.
Die toernooi word deur talentjagters geteiken om uitblinkers met studiebeuse na Amerikaanse universiteite te lok.
Daar's net een probleem: om aan die sewestoernooi deel te neem kos 'n aardige R32 000, wat reis- en verblyfkoste insluit. Dit moet elke speler uit sy eie sak betaal tensy hy 'n stewige borgskap bekom.
Ditto Antonio Farmer, 'n leerder van Hoërskool York. Hy is tans een van die topstapatlete in Suid-Afrika in sy ouderdomsgroep en hy het onlangs by die Suid-Afrikaanse senior kampioenskappe 'n silwermedalje gewen.
Antonio moet van 5 tot 7 April in die Paarl aan die SA Jeugkampioenskappe gaan deelneem en die kanse is uitstekend dat hy met goud daar gaan wegstap.
Maar ook hy sukkel om vir die reis- en verblyfkoste te hoes.
Sherine Fortuin en Berenice Farmer, onderskeidelik ma's van Darryn en Antonio, sit met hul hande in die hare, want die nood is groot en hulle kan dit eenvoudig nie bekostig om hul seuns se uitgawes alleen te dra nie.
Berenice het aan die George Herald gesê haar hart bloei vir haar kind wie se hartsbegeerte dit is om aan die jeugkampioenskappe deel te neem. Sy sê hy is te trots om hoed in die hand rond te loop om vir bydraes te vra.
Sherine sê Darryn se onkostes is eenvoudig net te hoog vir hul familie. "Ons wil so graag hê dat hy in Dallas gaan deelneem, maar die bedrag is vir ons onbereikbaar hoog."
Albei ma's het 'n beroep op Georgiete en sakelui gedoen om enige bydrae te maak. "Ons is albei desperaat.
"Elke rand sal help om nader aan die teiken te kom en sodoende te verseker dat ons seuns hul talente op 'n hoër verhoog kan uitstal."
Enigeen wat geldelik kan help, kan vir Berenice Farmer bel by 074 558 7732 en vir Sherine Fortuin by 078 4503601of per e-pos darryna5@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'