RUGBY NUUS - "Ek is tevrede met die spelers se vertoning in Saterdagaand se wedstryd teen die gedugte Bolandse klubkampioenspan, Villagers Worcester.
"Hoewel ons verloor het, het dit nooit vir ons gegaan oor die uitslag nie, maar veel eerder oor watter lesse ons moontlik uit die kragmeting kon neem wat ons vorentoe kan help om Evergreens in 'n nog gedugter eenheid te omskep."
Dit was Marvin November, hoofafrigter van Evergreens, SWD se klubkampioen, se opsomming oor dié taai kragmeting. Dié wedstryd was die hoofdis op Multisure Corporation se rugbyfees waar-tydens 16 rugbyklubs meegeding het.
Villagers Worcester het die stryd, wat deurentyd in gietende reën gespeel is, met 22 - 14 gewen.
November sê hy en die span is glad nie in sak en as nie.
"Die eindtelling is vir ons van akademiese belang. Maar dit wat ons daaruit geleer het, kan vorentoe handig te pas kom in ons voorbereiding vir die seisoen wat voorlê. Daar is beslis heelwat aspekte van die spel waaraan ons aandag moet gee."
Hy erken die gure weer en die sopnat veld het opwindende hardlooprugby feitlik onmoontlik gemaak, maar dat dit 'n taai tweestryd was, is gewis.
Só taai dat Evergreens twee spelers aan beserings verloor het.
Chelon Erasmus moes steke aan sy wangbeen kry, terwyl Rosco Ruiters met 'n gebreekte kakebeen van die veld af is. Hy moet binnekort 'n operasie ondergaan, maar sal eers 'n spesialis in Kaapstad moet raadpleeg. Albei spelers se herstel sal 'n ruk neem alvorens hulle weer kan uitdraf.
November sê wat hom baie hoop vir die toekoms gee, is dat Evergreens met 'n relatiewe klomp jong en onervare spelers teen die Boland-kampioen gespeel het.
"Die gemiddelde ouderdom van ons span was 23 jaar met net een speler ouer as 30. Maar die jongelinge het, veral agterlangs, voortreflike spel gelewer en hulle nie deur die besoekers laat ontsenu nie.
"Nuwe spelers soos Justin Bana, Armando Wienand en Shane Olckers het skitterend by die span se spelpatroon ingeskakel.
"Baie mense het verwag dat ons voorlangs teen Villagers Worcester se monster agttal sou sukkel, maar dit het nie gerealiseer nie.
"Ons het, trouens, soms in die lynstane en skrums oorheers en dit wil gedoen wees teen só 'n ervare teenstander. Die manne het vir niks teruggedeins nie."
November sê hy het van elke speler verwag om die basiese dinge in hul posisies reg te doen - en hulle hét! "Niemand het teleurgestel nie."
Wat veral bemoedigend is, sê November, is dat 'n jongeling soos die 22-jarige Curtley Smit en ook Brendan Pondo gewys het dat die klub oor baie talent beskik en ook die regte temperament om in moeilike situasies koelkop te bly. "Evergreens beskik oor hope talent en nou moet dit net behoorlik ontgin word."
Wat wel gelol het, was die verdedigingslyne waar die manne nie as 'n eenheid saamgespeel het nie. "Ons verdediging was soms maar gebrekkig, maar ons sal dit regstel."
Hou maar die Groen Masjien se vordering dop. Dié klubkampioen het 'n hele paar nuwe pyle in sy koker waarmee hy 'n span kan karnuffel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’