Update
RUGBY NUUS - Envir Prins, een van die twee spelers van die Evergreens-rugbyklub wat Vrydagoggend, 5 Mei, in 'n ongeluk op die N2 betrokke was, sal vir 'n geruime tyd buite aksie wees.
Prins, die kaptein en stut van die span, het 'n arm gebreek en ander beserings in die ongeluk opgedoen.
Drie vragmotors, 'n bakkie en na bewering 'n motorfiets, was betrokke in die ongeluk en dit het tussen Sedgefield en Wilderness naby die Swartvlei-afdraai plaasgevind. Geen sterftes is aangemeld nie.
Cobie Carelse, voorsitter van Evergreens, het Dinsdag gesê Prins word die week na 'n hospitaal in Kaapstad oorgeplaas. Nieteenstaande sy beserings is hy positief en in goeie gees.
Sean Booysen, 'n senter en die ander Evergreens speler, het nie ernstige beserings opgedoen nie. "Hy is 100%." Hy het die week reeds saam met die span geoefen en sal in 'n stadium oorweeg word sodat hy kan speel.
Volgens Carelse het Booysen nie Saterdag gespeel nie.
Hy het wel by die wedstryd teen Barbarians in Mosselbaai opgedaag. "Ons moes net keer want hy wou speel." Hy het toe gehelp om water aan te dra vir sy spanmaats. Volgens Carelse is die klub dankbaar dat die ongeluk nie noodlottig was nie.
Vorige artikels:
- Twee van Evergreens in motorongeluk
- Road re-opened following Swartvlei accident
- Traffic delays after accident outside Sedgefield
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’