Gallery
RUGBY NUUS - Evergreens lyk in die vroeë stadium na die gunsteling om in die Top 8-kompetisie koning te kraai.
Die afgelope naweek het hulle 'n kragvertoning teen Groot-Brakrivier in die Pacaltsdorp-stadion gelewer en gemaklik met 31 - 13 gewen.
Die grondslag vir dié oorwinning met 'n bonuspunt is deur sy gedugte pak voorspelers gelê. Hulle was monsters en het veral in die vaste fasette 'n kragvertoning gelewer.
Maar, in die eerste helfte, het die tuisspan gesukkel om aan die gang te kom. Die twee weke blaaskans vóór die afskop van die Top 8-kompetisie was dalk 'n rede vir hul stadige begin.
"Die manne het met loodvoete gespeel en effe verroes gelyk. Dis of ons in die eerste 15 minute nog nie opgedaag het nie," het Marvin November, voorspelerafrigter van Evergreens, ná afloop van die wedstryd in 'n onderhoud gesê.
"Om een of onverklaarbare rede het die spelers ook nie toegepas wat ons vooraf geoefen het nie. Met rustyd moes ons die sweep behoorlik klap om hulle wakker te skud en dit het die gewenste uitwerking gehad. Alle krediet aan Groot-Brak wat ons goed vasgepen en ons foute uitgebuit het om gou met 6 - 0 voor te loop.
"Met die omdraaislag het die manne behoorlik ingeklim en het die agttal begin om die spel te domineer. Skielik was hul koppe op die regte plek."
Evergreens se agtsteman, Sesona Macal, was iets ysliks met die bal in die hand en hy is goed ondersteun deur Lyle Delo en die Zimbabwiër, Godwin Mangenje.
"Maar wat bemoedigend was, is die puik vertoning deur 'n aantal jongelinge wat as plaasvervangers opgestuur is. Hulle het nie teleurgestel nie.
"En dan Leegan Moos, op heelagter, wat weer met sy taktiese skopwerk beïndruk en ook dodelik akkuraat aangelê het pale toe."
Vir Groot-Brakrivier het sy vurige agtsteman, Anroy Roelfse, en die plaasvervanger Damian Glauss uitgetroon, maar die keur onder die besoekers was sy heelagter, Roshwin Abrahams, wat Evergreens se verdediging met sy kraglopies deeglik beproef het. Hy is 'n knap aanvallende speler met hope vaart.
Anton Smith, bulslot van Evergreens, word grond toe gebring.
Francois 'Steyn' Cummings vlieg oor die bondel spelers op die grond.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’