Gallery
GEORGE NUUS - Ondersteuners van Evergreens en Progress het die afgelope Saterdag met groot verwagtinge na die ‘Graveyard’ in Pacaltsdorp opgetrek in wat vooraf beskryf is as ’n kleedrepetisie vir die eindstryd oor twee weke.
Dis nou natuurlik as albei spanne die komende Saterdag aan die wenkant is.
En wat ’n riller was dit nie. Geen draaiboekskrywer uit Hollywood sou dit beter kon beskryf het nie. Toeskouers het tot aan die einde vasgenael gesit en die afrigtingspanne aan albei kante was, toe die eindfluitjie uiteindelik deur die skeidsregter, Jason Japhta, geblaas is, bitter naby aan ’n hartaanval.
Daar was wel verskeie onderbrekings, maar die tweede helfte is met minstens 11 minute gerek. Tog verdien Japhta lof vir die kalm wyse waarop hy die gelykopstryd gehanteer het.
Albei spanne was van meet af aan oorgehaal om as oorwinnaar uit dié tweestryd te tree. Evergreens het aanvanklik soos ’n sneltrein weggespring, twee vinnige drieë ingeryg om in die 20ste minuut met 14 - 0 voor te loop.
Charles Goede druk Evergreens se eerste drie.
Maar, Progress kom altyd met ’n plan vorendag. Gee dit hulle ter ere: Rosemoor se spogspan het deurentyd kalm gebly en sterk teruggekom. Soos te wagte het Evergreens met sy bulagttal bresse in Progress se verdediging probeer oopruk, maar genadiglik het die damwal nie gebars nie.
Natuurlik het Progress sy snellers goed ingespan om met teenaanvalle terug te slaan.
In ’n spansport wil mens nie sommer uitblinkers uitsonder nie, maar twee spelers wat uitgetroon het, was Francois Kemp (flank) van Progress en Evergreens se Leighton van Wyk.
Die twee bielies het met brute kraglopies ente veld vir hul spanne gewen, sterk verdedig en oral opgeduik om bewegings verder te voer. Kemp sal met ’n kortkop die titel as speler van die wedstryd kon losslaan en hy is ook met ’n puik drie beloon na hy ’n paar verdedigers uit die pad geloop het.
Vir Evergreens het Lububalo Mtyanda, Godwin Mangenje en Francois Cummings voorlangs die oog gevang met die twee snellers Roscoe Ruiters en Charles Goede vuurwarm agterlangs. Anton Smith het as plaasvervangerslot ook ’n groot verskil gemaak, veral in die vaste losspel.
Dean Hopp, Xavier Scholtz, Alvin George, Justin Levendal en Kemp onder die Progress-voorhoede uitgeblink met Roscoe Syster wat op vleuel deur die klankgrens wou breek. Dié speler het spoed.
Kirnwill 'Speedy' Splint slaan bollemakiesie na hy gaan druk het.
Foto's: Hugo Redelinghuys
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’