GEORGE NUUS - Die SWD Arende wat in George gebaseer is, gaan beslis 'n nuwe afrigter kry.
Eddie Myners, wat die Arende verlede jaar afgerig het, is nie weer beskikbaar vir die pos nie. Aansoeke vir die pos sluit more, Vrydag 14 Januarie.
Myners het Dinsdag aan die George Herald gesê dit is vanjaar die Wêreldrugbybeker-vrouetoernooi. Dit vind in Oktober/November in Nieu-Seeland plaas. Hy is 'n assistent-afrigter van die Springbok-vrouespan en sal spesifiek aandag gee aan die voorspelers. Hy is direk by hul afrigting betrokke.
Hy sou nie die Arende wou afskeep as hy weer afrigter van die span is nie. Hy gaan dus nie aansoek doen vir die afrigterspos van die Arende nie.
Volgens Myners het hy sy tyd by die Arende geniet. "Dit was een van die moeilikste besluite vir my om te neem om nie weer aansoek te doen vir die afrigterspos nie. My hele rugbyloopbaan het by die Arende begin. Ek sal vir ewig dankbaar wees teenoor Hennie Baartman, president van die unie, vir die geleenthede wat hy vir my geskep het om die Springbokke vandag te kan afrig."
Myners is positief oor die toekoms. Na sy tyd by die Springbok-vrouespan sal hy weer beskikbaar wees vir afrigting by die Arende.
Oor die Arende se seisoen vanjaar het hy gesê: "Ek is vol vertroue dat as daar volgehou word met plaaslike talent, sal die Arende goed doen."
Veda Manie, algemene bestuurder van SWD-rugby, het Maandag, 10 Januarie gesê mense kan nog aansoek doen tot 14 Januarie. Sy kon nie aandui hoeveel aansoeke al ontvang is nie.
• Dit is 'n kontrakpos en enigiemand wat aan die vereistes voldoen, kan aansoek doen.
Voornemende kandidate moet onder meer beskik oor minstens sewe tot 10 jaar ondervinding van afrigting, rugbybeplanning en -bestuur. Hy/sy moet ook oor 'n vlak drie afrigtingskwalifikasie van wêreldrugby beskik.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'