RUGBY NUUS - Twee rugbyspelers, wat sterk bande met George het, het Saterdag 4 Februarie opslae op rugbyvelde gemaak.
Eers het Manie Libbok op Kingspark in Durban gehelp dat die Stormers 'n oorwinning van 46 - 19 oor die Haaie behaal en 'n paar uur later het Duhan van der Merwe 'n deurslaggewende rol gespeel in Skotland se oorwinning van 29 - 23 teen Engeland op Twickenham in Londen.
Beide is as speler van die wedstryd in hul onderskeie wedstryde aangewys.
Die twee het 'n paar dinge in gemeen. Benewens hul rugbytalente is beide oudleerders van Hoërskool Outeniqua. En moenie verbaas as hulle later vanjaar in die Wêreldrugbybekertoernooi in Frankryk teen mekaar uitdraf nie.
Suid-Afrika is in dieselfde groep as Skotland in die uitspeelrondes. Suid-Afrika en Skotland pak mekaar op 10 September in Marseille, Frankryk.
Van der Merwe is 'n seker keuse vir Skotland en Libbok het 'n baie goeie kans om die Springbokspan te haal. Libbok het Saterdag agter die doellyn vir die Stormers gaan kuier en Van der Merwe het dit twee keer vir Skotland gedoen.
Van der Merwe se eerste drie in die eerste helfte sal nog vir baie jare oor gepraat word. Hy het ook die wendrie vir Skotland gedruk. Tot kort voor die einde was Engeland nog 23 - 22 voor, maar Duhan het ander planne gehad en die wendrie vir Skotland gedruk.
Dulene van der Merwe, Duhan se ma, het Maandag gesê sy het met die eerste drie gesien hy het die bal. "My man Alhan het al hoe harder begin skreeu. Ek het hom nog nooit so hard hoor skreeu nie. Ek het my asem opgehou en gedink: Kind gaan net deur. Druk die bal. Moenie dat iemand jou tackle nie en moenie die bal verloor nie."
Sy het na die wedstryd met Duhan gesels. "Hy sê self dis die beste drie wat hy ooit gedruk het."
Volgens haar moet onthou word dat Duhan nog onlangs in Suid-Afrika was vir sy troue en reeds die volgende dag teruggekeer het na die buiteland. "Familie is vir hom belangrik."
Sy het benadruk dat Duhan gelukkig is met sy vertoning, maar sy fokus het reeds geskuif na die volgende toets Saterdag teen Wallis.
Vir Duhan was die oorwinning 'n spanpoging. Hy glo al die spelers in die span verdien erkenning.
Piet Cloete, sporthoof van Outeniqua, het Maandag gesê dit was groot oomblikke om te sien hoe beide, Duhan en Manie presteer. Hy het beide manne afgerig toe hulle op Outeniqua was. Ofskoon op verskillende tye, het beide vir die skool se eerste span uitgedraf en ook die SA Skolespan.
Volgens Cloete is die skool trots op hul jongste prestasies en hou hul vordering dop. "Vir ons as skool wat vanjaar 100 jaar oud is, is dit besonders en dit dien as motivering vir die eerste span."
Cloete het reeds op skool gesien oor watter rugbytalente beide beskik en toe al geglo beide sal dit ver bring.
Cloete het Saterdagaand die wedstryd tussen Skotland en Engeland saam met vriende op televisie gevolg. "Ons het amper deur die dak gespring van opgewondenheid."
Duhan van der Merwe
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'