RUGBY NUUS - Vir die SWD Arende breek die oomblik van waarheid in die 2024-seisoen Vrydagmiddag, 22 Maart om 15:30 aan, wanneer die span in sy eerste wedstryd van die SA Beker teen die Pumas op Outeniquapark speel.
Nie net is dit die amptelike begin van die nuwe seisoen nie, maar ook die eerste keer dat die span se nuwe afrigter, Zane Kirchner, in 'n ligawedstryd aan die spits van die span staan.
Kirchner word bygestaan deur twee ervare manne, Anton Leonard en Shaun Raubenheimer. Leonard het al vir die Springbokke gespeel en Raubenheimer was in die verlede onder meer kaptein van die Arende.
Die span het reeds opwarmingswedstryde teen die OP Olifante en die Boland-Kavaliers agter die rug.
'n Besige tydjie wag op die Arende. Op 30 Maart speel die Arende in 'n wegwedstryd teen Border Bulldogs en op 6 April teen die OP Olifante wat ook 'n wegwedstryd is.
Op 13 April draf hulle voor hul tuisskare teen die Boland Kavaliers op. 'n Week later is dit weer 'n wegwedstryd teen die Valke.
Op Saterdag 27 April speel hulle teen die Cheetahs op Outeniquapark en op 4 Mei teen die Griffons ook op Outeniquapark.
Op 11 Mei speel die Arende teen die Griekwas in 'n wegwedstryd en op 18 Mei teen die Luiperds in George.
As die Arende daarin slaag om die eindstryd te haal, speel hulle op 25 Mei om die SA Beker staanplek in die Suid-Kaap te laat kry.
Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby, het gesê daar gaan druk op die groep wees. Hy het bygevoeg: "Ons omhels die druk wat daarmee gepaardgaan. Dit sal 'n toets wees vir die totale diepte in die groep sou daar beserings opduik."
Volgens Brinkhuis glo hy die afrigtingspan is tevrede met die wedstryde wat al die seisoen plaasgevind het. "Ons is gereed vir die seisoen en sien uit daarna."
Na die SA Beker is daar 'n breek en 'n verpligte rusperiode vir die spelers. Daarna begin die kompetisie in die eerste divisie van die Curriebekerreeks.
Die hekke open Vrydag om 12:30. Om 13:30 speel die o. 19-spanne van Pacaltsdorp en Parkdene teen mekaar.
Die Arende by die bekendstelling. Foto: Eugene Gunning
• Groot opgewondenheid het verlede Donderdagaand, 14 Maart in Glentana geheers waar die spelers vir die nuwe seisoen amptelik bekend gestel is.
Die geleentheid, by Meet at Sea in Glentana is deur sowat 100 gaste bygewoon. Benewens die spelers en ampsdraers van SW Rugby, is dit ook bygewoon deur verteenwoordigers van die borge en die George- en Mosselbaai-munisipaliteit.
Die Arende groep bestaan uit 35 spelers. Tydens die geleentheid is aangekondig dat Janneman Stander weer die kaptein is. Net soos tydens verlede seisoen is Martin de Vos die spanbestuurder.
Phangela Security is die hoofborg en Kiron Properties is ook 'n borg. Daar is ook ander maatskappye uit die privaat sektor wat die span borg.
Die SWD Arende groep en ampsdraers van SWD Rugby. Foto: MRREE Studios
Outeniquapark waar die wedstryd Vrydag 22 Maart tussen die SWD Arende en die Pumas plaasvind. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’