RUGBY NUUS - As twee swaargewigte mekaar in 'n bokskryt aandurf, gaan die bloed spat. Gelukkig het daar Saterdagmiddag geen vuiste geklap of bloed gevloei in dié kragmeting tussen Crusaders en PE Polisie in hul tweestryd by Multisure Corporation se rugbyfees nie.
Dit was 'n harde, ongenaakbare stryd tussen die vier gekalkte lyne op Outeniqua-park met die Baaise besoekers wat uiteindelik met 31 - 25 geseëvier het.
Menige rugbyondersteuners sal erken dat PE Polisie net daardie rapsie sterker en meer afgerond was. Voorlangs het die besoekers die pap behoorlik dik aangemaak.
Dis veral in die voorry waar hulle die Crusaders gekarnuffel het en dis te verstane, want die tuisspan het sy voorry eers teen Vrydag gefinaliseer. Daar was geen kans om hulself deeglik vir dié aanslag voor te berei nie.
Maar Crusaders is glad nie oordonder nie. Hulle het PE Polisie goed in toom gehou en soms met brute aanvalle hul verdediging skoon oorhoops gehad.
In só 'n gelykopstryd is dit moeilik om uitblinkers uit te sonder, maar Crusaders se skakelpaar, Justin Williams (skrumskakel) en Curwin Appolis (losskakel), het skitterend gekombineer en beïndruk met hul puik balverspreiding. Hou maar gerus dié twee manne vanjaar dop.
Die blitsige Keith-Roy Kiewiets (vleuel) het sy naam as Crusaders se spoedkoning gestand gedoen. Gun hom 'n halwe gaping en hy is weg.
Die veelsydige Malik Booysen het op vleuel ook puik vertoon en met al sy skoppe pale toe geslaag. En op heelagter het Greagan Miller 'n stewige debuut gemaak.
Voorlangs het Layle Delo (stut) oudergewoonte van voor af gelei en met sy ervaring 'n kalmte onder die spelers gebring. Hy bly maar 'n yster.
Maar, die uitstaande voorspeler was Waynedrew George, wat as plaasvervangerflank opgestuur is. Hier is nou 'n harde, inklimspeler wat dit nog ver kan bring.
Crusaders kan vanjaar in die Superliga sterk meeding, maar dan sal die fiksheidsvlakke en kondisionering sterk gelig moet word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’