GEORGE RUGBYNUUS - Twee oud-inwoners van George, sal aanstaande maand in aksie wees tydens die Wêreldbekerrugbytoernooi in Japan. CJ Stander, wat deesdae vir Ierland speel, het hier gewoon en Warrick Gelant het hier skoolgegaan.
Jannie Stander, CJ se pa, het aan die George Herald, gesê hy is baie trots op sy seun. "Sy ondersteuners in Blanco, waar hy op laerskool was, in Riversdal waar hy op hoërskool was en ook die plaaswerkers hier op die plaas is trots."
Volgens Jannie wou CJ destyds, toe hy nog in Suid-Afrika was, baie graag vir die Springbokke gespeel het. Dinge het toe nie so uitgewerk nie en hy is Ierland toe. Daar het hy eers vir Munster uitgedraf en later vir Ierland. Hy het ook die span van die Britse en Ierse Leeus gehaal.
Daarna was dit sy ideaal om na die Wêreldbeker te gaan en nou is hy in Ierland se span wat daar gaan speel.
Na die span verlede week aangekondig is, het hy met CJ gesels. "CJ is baie opgewonde en sien uit na die toernooi."
Jannie het gesê in die stadium lyk dit of Wallis en Engeland die gunstelinge is om die toernooi te wen. Maar moet ook nie die Springbokke weggooi nie. Hy sal graag wil sien dat Ierland goed doen in die toernooi.
Self gaan hy nie die toernooi bywoon nie, maar sal die wedstryde op televisie volg.
Laat November of vroeg Desember kom CJ, sy eggenoot, Jean-Mariè en hul dogtertjie, Everli, Suid-Afrika toe. "Dan gaan ons almal saam vakansie hou in Hartenbos."
Warrick Gelant in aksie op die rugbyveld.
Piet Cloete, adjunkhoof en sporthoof van die Hoërskool Outeniqua, het gesê die skool is trots op Gelant. Hy was van gr. 8 tot 12 'n leerling aan die skool en het sy skoolloopbaan in 2013 hier voltooi. Tydens sy jare by Outeniqua was hy een van die staatmakers in die skool se eerste span.
Hy is oorspronklik van Knysna en het destyds daar vir SWD se Cravenweek-span uitgedraf.
Van gr. 8 tot 12 was hy elke keer die onderkaptein van die span by die skool waarin hy gespeel het.
Cloete is nie verras oor Gelant se prestasies op die rugbyveld nie. Hy het destyds al gesê hy het die potensiaal om eendag die groen en goud te dra. Hy het geen twyfel nie dat Gelant sy plek in die span verdien en dit sal volstaan tydens die toernooi in Japan.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'