GEORGE NUUS - Chanelle Britz, oudleerder van Hoërskool Outeniqua, het haar hamergooi vir 'n rugbybal verruil, en dié skuif het begin vrugte afwerp. Die 19-jarige atleet neem hierdie naweek deel aan die o. 20 Cheetah-vrouespan wat van 5 tot 10 Oktober in Johannesburg die SA vrouerugbyweek aanpak.
Britz het verlede jaar matriek voltooi en was tydens haar skoolloopbaan aktief betrokke in hamergooi, waar sy onder meer 'n silwermedalje in die 4 kg-dissipline by die SA hoërskole behaal het.
Rugby het aanvanklik as 'n bysaak in 2021 begin, toe sy by Hoërskool George begin speel het om haar fiksheid vir atletiek te verbeter. Haar suster, Lee-Ann, was toe reeds 'n rugbyspeler, en só is die liefde vir die sport beklink.
Sy het vinnig op die rugbyveld uitgeblink en haar pad oopgespeel na die SWD o.16-span (2022), gevolg deur die SWD o.18-span (2023) waar sy ook as kaptein gedien het, en verlede jaar vir die SWD o.18-span.
Chanelle se uitsonderlike talent is beloon met 'n vierjaar-volbeurs deur die Central University of Technology (CUT) in Bloemfontein. Sy is tans 'n eerstejaarstudent in kuns en ontwerp.
By CUT het sy reeds haar merk as agtsteman op die rugbyveld gemaak: die CUT-vrouespan het in 2025 tweede geëindig in die USSA kompetisie en 'n silwermedalje ingepalm. Chanelle het ook deelgeneem aan die USSA vrouerugby 15's-toer na Pretoria en die USSA Vroue 7's-toer na Stellenbosch.
Nou wag die volgende groot uitdaging - die o. 20 Cheetah-vrouespan in Johannesburg. Hier sal sy of die sewende of agste posisie inneem.
Britz se drome strek nog verder: sy wil hierdie jaar die "laaste boksie tiek" en haar plek verdien in die senior vrouerugbyspan.
En raai wie is haar gunsteling- rugbyspeler? Ardie Savea van Nieu-Seeland.
Chanelle se uitsonderlike talent is beloon met ’n vierjaar-volbeurs deur die Central University of Technology (CUT) in Bloemfontein.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’