SPORTNUUS - George se rugbytrots, Chanelle Britz, is gereed vir nóg 'n belangrike mylpaal in haar vinnig groeiende loopbaan.
Sy is in die Bloemfontein-span opgeneem wat vanaf vandag, Maandag 29 Junie, aan die USSA Vroue 15's-rugbytoernooi by die Nelson Mandela Universiteit in Gqeberha deelneem. Die toernooi eindig Vrydag 3 Julie.
Britz sal tydens die toernooi vir die eerste keer die nommer 10-trui aantrek - 'n nuwe posisie vir die veelsydige speler wat reeds bewys het dat sy met gemak ook as losvoorspeler in die nommer 6-, 7- en 8-posisies kan presteer.
Haar gesin beplan om Vrydag 3 Julie, na Gqeberha te reis om haar laaste wedstryd by te woon voordat hulle saam met haar terugkeer na George.
Die uitnodiging volg kort nadat Britz en haar spanmaats van die Central University of Technology (CUT) 'n silwermedalje in hul universiteitsliga verower het. CUT het oor 'n tydperk van agt weke teen tien spanne meegeding voordat hulle die eindstryd gehaal het.
Britz se rugbyloopbaan bly van krag tot krag gaan. Die voormalige Hoërskool Outeniqua-leerder het haarself reeds as een van George se top jong vrouerugbyspelers gevestig en het vanjaar ook die Vrystaat o.20-vrouespan verteenwoordig.
Chanelle is baie opgewonde oor 'n week van rugby wat voorlê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’