SPORTNUUS - George se rugbyspeler, Chanelle Britz (20), het haar USSA Vroue 15's-rugbytoernooi met 'n taai oorwinning afgeskop toe haar span, die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT), op Maandag 29 Junie die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT) met 20 - 17 geklop het.
"Die wind het gewaai en dit was koud - dit was 'n harde wedstryd," het Britz ná afloop van die wedstryd gesê.
SUT het nog 'n wedstryd op Woensdag teen Walter Sisulu Universiteit (WSU) gehad, wat Britz se span 20-19 gewen het. Dan lê daar vandag 'n laaste een voor. Met hierdie twee oorwinnings sal SUT na die Varsity Cup by die Nelson Mandela Universiteit (NMU) deurdring.
Die USSA Vroue 15's-toernooi word van 29 Junie tot 3 Julie by die Nelson Mandelabaai Universiteit in Gqeberha aangebied.
Britz, 'n voormalige leerder van Hoërskool Outeniqua, dra tydens die huidige toernooi vir die eerste keer die nommer 10-trui. Dit is 'n nuwe uitdaging vir hierdie veelsydige speler wat reeds haar staal in die nommer 6-, 7- en 8-posisies bewys het.
Haar gesin beplan om vandag haar laaste wedstryd by te woon voordat hulle saam met haar na George terugkeer.
Britz se deelname volg kort nadat sy en haar SUT-spanmaats die silwermedalje in hul universiteitsliga verower het. Die span het oor agt weke teen 10 universiteitspanne meegeding voordat hulle die eindstryd gehaal het.
Haar rugbyloopbaan gaan steeds van krag tot krag. Benewens haar universiteitsukses het Britz vanjaar ook die Vrystaat o. 20-vrouespan verteenwoordig.
Britz, 'n voormalige leerder van Hoërskool Outeniqua, dra tydens die huidige toernooi vir die eerste keer die nommer 10-trui.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’