RUGBY NUUS - Die afgelope Saterdag was dit benoude boude op D'Almeida Park toe Barbarians in die laaste kwart van die wedstryd moes walgooi soos min om die span van Riversdal Blues in toom te hou om uiteindelik met 24 - 20 te seëvier.
Dit ná die tuisspan rustyd met 14 - 3 voorgeloop het.
Die ou geykte "terug na die tekenbord" gesegde, is duidelik op die Barbarians van toepassing.
Ná dinge baie goed bymekaar gehou en skitterende spel met goeie uit-slae beloon is, is dit half of dinge begin lostorring. En die eerste ronde van dié strawwe kompetisie is nog nie iets van die verlede nie.
Alle eer egter aan die Riversdallers. Dinge het maar aanvanklik broekskeur gegaan vir die besoekers. Dit wil egter voorkom of dié span besig is om sy voete te vind en daarvan kan die Barbarians deeglik van getuig ná dié kragmeting op hulle tuisveld.
Tweede helfte
Dit was die Blues se vaste vyf wat daarin geslaag het om die Babaas veral in die tweede helfte vas te knoop. Met die telling 24 - 3 in die 60ste minuut in die guns van die Babaas, het die besoekers die inisiatief oorgeneem, drie verdoelde drieë met goed uitgewerkte rolmaalbewegings gaan druk en byna 'n groot opskudding veroorsaak.
Barbarians se voorspelers was in die eerste helfte nog in die prentjie en was goed op dreef in die vastelos, maar daarna het die skrywer van die draaiboek skynbaar sy pen iewers vergeet.
Met die wind in die blaaie van die Barbarians in die eerste helfte het dinge aanvanklik goed verloop.
Die agterlyn het gelyk asof hy lekker kombineer en dinge het gewerk. Die enjinkamer het egter iets gekort en dis waar die Blues hul aandag op gevestig het in die tweede helfte en so byna die tuisspan verras het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’