SPORT NEWS - Daar heers 'n opgewondenheid rondom die Dotsure SWD Arende wat George lanklaas beleef het.
Drie wedstryde, drie bonuspunt-oorwinnings en 'n plek bo-aan die Carling Curriebeker Eerste Divisie-punteleer het die Arende se ondersteuners rede gegee om weer groot te droom. Saterdag 4 Julie wag die volgende hoofstuk wanneer die Border Bulldogs Outeniqua Park besoek.
Die Arende kom terug ná hul indrukwekkende oorwinning oor die Griffons in Welkom, 'n uitslag wat baie kenners as een van die span se beste vertonings in jare beskryf.
Agt drieë op vreemde bodem het nie net die punteleer verander nie, maar ook 'n duidelike boodskap aan die res van die kompetisie gestuur, Dotsure SWD Arende is gereed om vir die Carling Curriebeker Eesrste Divisie te veg.
Maar rugby het al dikwels gewys dat die gevaarlikste wedstryde dié is waarin 'n span verwag word om te wen.
Die Border Bulldogs benodig tans punte om hul seisoen aan die lewe te hou en sal probeer om die Arende se ritme vroeg te ontwrig. Vir die tuisspan sal dit belangrik wees om dieselfde intensiteit en dissipline te handhaaf wat hulle die afgelope twee weke teen die Valke en Griffons getoon het.
Spelers soos Carel du Preez, Janus Venter en Nathan Meilhon het voorlangs die standaard gestel, terwyl Ulrich Stander tans een van die gevaarlikste aanvallers in die kompetisie is. Met die ervaring van Fred Zeilinga en die kalmte van Divan du Toit behoort die Eagles weer goed toegerus te wees om die wedstryd te beheer.
Outeniqua Park was nog altyd 'n spesiale plek vir SWD-rugby. Wanneer die pawiljoene vol is en die groen truie die span aanmoedig, speel die Arende met 'n ekstra stuk selfvertroue.
Met die halfeindstryde wat vinnig nader kom, is elke wedstryd nou van kardinale belang. 'n Oorwinning Saterdag sal nie net die Arende se plek bo-aan die punteleer verstewig nie, maar ook hul momentum behou voordat die laaste rondes aanbreek.
Die uitnodiging aan die Tuinroete is eenvoudig, kom vul Outeniqua Park, trek groen aan en help die Arende om nog 'n tree nader aan die droom te kom.
Die wedstryd begin om 14:00, wat die ondersteuners meer as genoeg tyd gee om die Arende en die Bokke te ondersteun sonder om iets te mis.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’