OUDTSHOORN NUUS - Die SWD Arende se Curriebekerdrome lê ongelukkig vir vanjaar aan skerwe, maar alles is nie verlore nie. Die span is nog in die wedloop in die Mzansi-reeks.
Die Arende se drome in die eerste divisie van die Currie-bekerreeks het op Saterdag 20 Mei in Porterville geëindig toe hulle met 15 - 29 teen Boland Kavaliers verloor het.
Toe rustyd aanbreek kon die wedstryd nog enige kant toe gaan met die Kavaliers wat met 5 - 3 voorgeloop het.
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, het Maandag gesê in die tweede helfte het Boland in 'n stadium binne sewe minute drie drieë gedruk.
Volgens Moolman kon die Arende nie kapitaliseer op geleenthede wat hulle in die eerste helfte geskep het nie. Boland het goed verdedig en druk op die Arende se lynstane geplaas.
Hy het benadruk dat die Arende nie gaan lê nie. "Ons is wel teleurgesteld, maar ons fokus skuif na die twee oorblywende wedstryde in die Mzansi-reeks."
Die span speel Saterdag 27 Mei teen Zimbabwe in Harare en op 10 Junie teen Kenia in Nairobi.
As die Arende beide wedstryde wen, is daar 'n kans dat hy in 'n halfeindstryd op Outeniquapark kan speel.
Voor Saterdag se wedstryd het die Arende ses oorwinnings in 'n ry behaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’