Gallery
RUGBY NUUS - Die SWD Arende kan met reg trots wees. Dié span is nou eerste op die punteleer van die eerste divisie van die Curriebeker- en Mzansi-reeks nadat hulle Vrydag 28 April die Grens Bulldogs met 47 - 25 gewen het.
Dit was die Arende se sesde oorwinning in 'n ry.
Ofskoon van die ander spanne tot dusver minder wedstryde as die Arende gespeel het, is dit nie uitgesluit dat die Arende laat in Junie in die eindstryd van die eerste divisie van die Curriebekerreeks sal speel nie. As die Arende in die eerste plek op die punteleer bly sal die eindstryd op Outeniquapark plaasvind.
Tydens Vrydag se wedstryd het die Arende gewys waarom hulle vanjaar 'n faktor is om mee rekening te hou.
Die span het sewe keer in die wedstryd agter die doellyn gaan kuier en só 'n bonus-punt verdien. In die eerste helfte was die Arende in beheer, maar in die tweede helfte het die Bulldogs hard teruggeveg.
Die Arende het egter karakter gewys en vir die vale gekeer. Tot redelik kort voor die einde was die telling 35 - 25.
FOTOGALERY: Arende is in beheer by Outeniquapark
In die doodsnikke het die Arende die laaste drie gedruk en die tuisskare rasend gehad.
Tydens die wedstryd het 'n komiese insident tot groot vermaak van die skare hom afgespeel.
Clive Kruger, buitesenter het in die tweede helfte 'n drie onder die pale aan die noordelike kant gedruk. Kruger, wat ook die speler van die wedstryd was en sy spanmaat, Austin Prince, 'n vleuel, het na die drie oor die heining, wat die speelveld van die pawiljoen skei, gespring.
Hulle het tussen die skare gaan sit en saam hande geklap om Kruger se drie te vier.
In die skare wat die wedstryd bygewoon het was CJ Stander. Stander, oorspronklik van George, het al vir Ierland en die Britse en Ierse Leeus gespeel. Hy was daar om sy jonger broer en kaptein van die Arende, Janneman Stander, te ondersteun.
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, het gesê hy is tevrede met sy span se vertoning teen die Bulldogs.
Die span het in die eerste 30 minute goed gespeel en teen halftyd was die bonuspunt verseker.
Die Arende speel op 20 Mei teen Boland, die week daarna teen Zimbabwe in Harare en daarna teen Kenia in Nairobi. As hulle vir Boland, 'n wegwedstryd klop, is hy verseker van 'n eindstryd in die eerste divisie van die Curriebekerreeks.
Die skare op die hoofpawiljoen van Outeniquapark tydens Vrydag se wedstryd. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’