STREEKNUUS - Wanneer die SWD Arende en die Hollywoodbets Haaie Vrydag 4 September om 19:00 op Outeniquapark kragte meet, kry rugbyliefhebbers ’n unieke geleentheid om nie net plaaslike talent in aksie te sien nie, maar ook van die spelers wat hulle in die komende Vodacom United Rugby Championship (URC) seisoen kan vermaak.
Dit is ’n opwarmings- en voorbereidingswedstryd, maar niemand moet verwag dat dit sommer net ’n vriendelike oefensessie gaan wees nie.
Albei spanne behoort ongeveer 30 spelers deur die wedstryd te gebruik, wat beteken dat ondersteuners die kans kry om ’n groot groep spelers te sien en om te kyk wie hul hand opsteek vir groter geleenthede.
Vir die Haaie is die wedstryd veral belangrik as deel van hul voorbereiding vir die nuwe URC-seisoen. Die Durban-span het reeds aangedui dat hul Curriebeker-program ’n belangrike ontwikkelingspad vir die URC is, met jong spelers wat die geleentheid kry om hulself op ’n hoër vlak te bewys.
Daar is heelwat interessante name om dop te hou.
Vusi Moyo, die Junior Springbok-losskakel, het reeds gewys dat hy gemaklik op URC-vlak kan aanpas. Hy het in 2026 sy URC-debuut vir die Haaie gemaak, terwyl spelers soos Zekhethelo Siyaya en Luan Giliomee ook as jong spelers geleenthede op die groot verhoog gekry het.
Giliomee het selfs op sy URC-debuut in Maart ’n drie gedruk, ’n goeie voorbeeld van hoe vinnig jong spelers van die Haaie vanaf ontwikkelingsrugby na die hoogste vlak kan beweeg.
Die Haaie se 2026/27-groep bevat ook ’n mengsel van ervaring en nuwe bloed, dit beteken Vrydagaand kan ’n uitstekende geleentheid wees om moontlike toekomstige URC-sterre van naby te sien voordat hulle hul merk op die groter verhoog maak.
Vir SWD is dit die perfekte geleentheid om ná hul uitstekende 2026 seisoen weer voor hul tuisskare te speel. Die Arende het vanjaar gewys dat hulle oor 'n kombinasie van fisieke voorspelers en gevaarlike agterspelers beskik. Die ondersteuners hoef dus nie te wonder of daar genoeg plaaslike talent op die veld gaan wees nie.
Die wedstryd bied ook aan SWD se jonger spelers die kans om hulself teen spelers met URC-ervaring te toets en dit is presies waar die waarde van so ’n wedstryd lê. Vir die Arende ondersteuners is daar boonop 'n ekstra rede om die span te kom ondersteun.
Ná SWD se indrukwekkende Curriebeker-seisoen en hul oorwinning in die eindstryd teen die Valke, is daar ’n nuwe gevoel rondom rugby in die Tuinroete.
Outeniquapark het die afgelope seisoen gewys wat gebeur wanneer die gemeenskap agter die Arende staan, Vrydagaand 19:00 kan die ondersteuners weer daardie atmosfeer skep.
Want hoewel daar nie ’n trofee op die spel is nie, is daar iets anders wat rugbyliefhebbers kan sien, die volgende generasie sterre wat hul eerste tree na die groot verhoog gee.
En dalk, net dalk, kyk jy Vrydagaand na die speler waarvan almal oor ’n jaar gaan sê: “Ek het hom die eerste keer in George sien speel.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’